DIE brug na Hazenjacht, langs die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust, is in 2021 pienk geverf om met die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se kankerbewusmaking te help, en vanjaar gaan die brug ’n tweede laag verf kry om Bors-kankermaand in Oktober te herdenk.
Vanjaar sal die geleentheid op Saterdag, 1 Okto-ber plaasvind, maar met bietjie van ’n kinkel in die kabel. Volgens Adri Odendaal, volhoubaarheidsprojekleier van Kansa in die Suid-Kaap, sal inwoners van die Klein Karoo vanjaar nie net kan help verf nie, maar teen ’n skamele R40 sal hulle ’n worsrol kan koop, wat ’n slot insluit.
Dit mag dalk na ’n vreemde maaltyd klink, maar Odendaal verduidelik: “Die R40 gaan ’n slot insluit waarop jy iemand wat jy aan kanker verloor het se naam kan skryf en aan die brug kan vasmaak.”
Odendaal beplan ook om twee borde teen die brug op te sit met die Kansa-strik op “sodat wanneer mense daar verbyry, hulle weet hoekom die brug pienk is”.
Skakel Odendaal by 072 133 0444 of stuur ’n e-pos na aodendaal@cansa.org.za vir verdere inligting.
• Die eerste verfsessie aan die brug is in November verlede jaar as ’n inisiatief van inwoners van die Hazenjacht-omgewing voltooi. Die transformasie van die verwaarlooste, vaalwit brug is deur Len Bornman van Thabile Lodge, ’n gastehuis in dié omgewing, en sy bure geïnisieer. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Pienk brug vir Kansa gaan verder verfraai word
Dié pienk brug gaan oorgeverf word met nog helderder pienk verf. (Foto verskaf)