Die voertuig waarmee die verdagtes vanaf die diefstaltoneel op Oudtshoorn gevlug het.
Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
DRIE mans en ’n vrou wat verlede Donderdagmiddag na ’n diefstal by Pick n Pay op Oudtshoorn gevlug het, is Donderdagnag deur die polisie op Robertson in hegtenis geneem.
Die vier verdagtes het na bewering in ’n wit Volkswagen Polo Hatchback met die registrasienommer CAA 48768 van die diefstaltoneel gevlug nadat hulle betrap is. Na wat verneem word, het dit gelyk of een van die verdagtes ’n vuurwapen gehad het.
Inwoners is op verskeie WhatsApp-buurgroepe gevra om op die uitkyk te wees vir die voertuig.
Na wat verneem word, het die voertuig die oggend Oudtshoorn van die Kaap se kant binnegekom en is later op pad terug na die Kaap eers op Swellendam opgemerk voordat dit op Robertson voorgekeer is.