DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het bekend gemaak dat dat opgraderingswerk van meer as R9 miljoen aan die De Jager Sportkompleks se tartanbaan op 1 Maart 2023 afskop.
Dit is nie net welkome nuus vir Oudtshoorn se atlete nie, maar ook vir die streek se atletiekgemeenskap omdat distriks- en provinsiale atletiek- en tweekampbyeenkomste gereeld hier gehou word.
Hierdie byeenkomste wat honderde en soms selfs duisende besoekers op ’n slag Oudtshoorn toe lok, is ’n groot finansiële hupstoot vir die dorp se ekonomie.
Rolspelers in die atletiek- en tweekampgemeenskap het die afgelope jare dikwels hul kommer oor die toestand van die tartanbaan te kenne gegee, met groot dele van die tartanoppervlak wat oplig en die volle gebruik daarvan belemmer.
Luidens ’n persverklaring uitgereik deur die kantoor van Chris Macpherson, burgemeester van die Groter Oudtshoorn, is daar besluit om aanvanklike planne om dadelik met opgraderingswerk te begin, uit te stel na begin Maart sodat die verskeie sportbyeenkomste wat reeds vir die somerseisoen geskeduleer is, kan plaasvind.
“In gesprekke met atletiekverenigings, skole en ander organisasies was dit duidelik dat dit tot groot nadeel van atletiek en die dorp sal wees indien die De Jager Sportkompleks vir die volgende vier maande ontoeganklik sou wees,” het Macpherson gesê.
Volgens hom is daar met die kontrakteur ooreengekom dat werk eers op 1 Maart 2023 sal begin.
“Die kontrakteur, Martin & East, het verlede week tydens onderhandelinge met die munisipaliteit ingestem om sonder enige addsionele koste die aanvangsdatum met vier maande aan te skuif,” het hy gesê.
Macpherson sê daar is wel enkele byeenkomste en geleenthede vir Maart beplan, maar dat die munisipaliteit tans om met die betrokkenes wat die baan dan wil gebruik, onderhandel.
Die sportkompleks se spreiligte sal volgens Macpherson ook opgeknap word met meer as R2 miljoen wat daarvoor bewillig is.
“Dit kan moontlik reeds gedurende die huidige atletiekseisoen gedoen word sodat die baan ook vir aandbyeenkomste gebruik kan word,” sê hy. (Deur Stefan Skapie Goosen)
Opgraderingswerk aan tartanbaan begin 1 Maart
Die uitvoerende burgemeester, Chris Macpherson (links) en raadslid Johan Fourie by die De Jager Sportterrein tydens ’n onlangse skolebyeenkoms. Foto verskaf