Nog ’n slagoffer van berugte draai

Die trok van iMvula Roads & Civils wat in die sloot beland het.        Foto: Wyndham Ewerts

Die trok van iMvula Roads & Civils wat in die sloot beland het. Foto: Wyndham Ewerts

Ilze-Mari Gründling en Wyndham Ewerts
DIE berugte skerp draai naby die Oudtshoorn-stasie het Saterdagoggend nog ’n voertuig die pad byster laat raak toe ’n trok in die sloot op die draai beland het.

Die ongeluk het omstreeks 08:55 plaasgevind.

Joseph Kobedi (59) is met geringe beserings na die Oudtshoorn Hospitaal geneem.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, was Kobedi alleen in die trok toe die voorval plaasgevind het.

Volgens ’n werknemer van iMvula Roads & Civils wat ook op die toneel was, Garett Hayward, was Kobedi onderweg na Prins Albert van­uit George se rigting.

Hy het egter die verkeerde afdraai (na die Oudts­hoorn Proefplaas) geneem, en nadat hy sy fout besef het, omgedraai terug in Oudtshoorn se rigting.

Hayward sê die skerp draai het Kobedi egter onkant gevang omdat daar geen waarskuwingsborde is wat aandui dat daar ’n skerp draai is nie.

Die polisie ondersoek geen saak in verband met die ongeluk nie.