Neil Diamond kom Klein Karoo toe

Johan Liebenberg… mag maar Neil Diamond se liedjies sing. Foto verskaf

MET meer as 100 miljoen albumverkope wêreldwyd word Neil Diamond as een van die top-kuns­tenaars van alle tye beskou.

Met liedjies soos “Sweet Caroline”, “Beautiful Noise” en “Longfellow Serenade” het hy die trefferparades in die sewentigerjare oorheers en meer as 30 van sy liedjies het die toptien gehaal. Hy het ook tien nommer-een-treffers gehad.

As daar een mens is wat maar Neil Diamond se liedjies mág sing, is dit die Suid-Afrikaner Johan Liebenberg.

Johan het in 2009 die eerste keer van Diamond se liedjies gesing en gou besef sy stem is gemaak daarvoor. In 2013 het hy besluit om sy eie Neil Diamond-huldeblykvertoning te skep.

Dié vertoning is sedertdien landwyd en in Namibië opgevoer, die meeste daarvan uitverkoop.

Op Saterdag, 31 Augustus, sal egter die eerste keer wees wat Johan en sy orkes dié vertoning in die hartjie van die Klein Karoo op ’n granaatplaas gaan aanbied. Johan het volgens almal wat al sy vertonings bygewoon het, ’n fantastiese stem en verhoogpersoonlikheid en sy weergawe van Diamond-treffers soos “Cracklin’ Rosie”, “Desiree” en “America” is byna beter as die oorspronklike!

Vir ’n voorsmakie van die vertoning, gaan na https://youtu.be/n931At3dHuw.

• Kaartjies (R180) vir die vertoning by Celebratio is beskikbaar by www.celebratio.co.za of by PostNet Oudtshoorn.