N12-protes: Meer kry nou werk

Die toneel langs die N12 net buite Oudts­hoorn verlede week toe protes­optrede deur inwoners van die aanliggende Rosevalley dae lank daar plaasgevind het en die pad gesluit moes word.  Foto:  Angelique Erasmus

’N VERGADERING gister tussen inwo­ners van Wyk 6 in Oudtshoorn en die konstruksie­maat­skappy wat bouwerk aan die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust doen, het goed afgeloop, lui ’n verklaring van die Oudts­hoorn Munisipaliteit.

Dit volg na verskeie voorvalle van protesoptrede oor werksgeleenthede deur inwoners van Rosevalley, Oudtshoorn.

Luidens die verklaring het die maat­skappy onderneem om werksgeleenthede vir sowat 30 persone te skep, wat op rotasiebasis sal geskied. ’n Formele oor­eenkoms sou reeds gister opgestel word.

Wyk 6 se raadslid, Jerome Lambaatjeen, het inwoners en die maatskappy bedank vir hul bereidwilligeid om op­los­sings te vind.

“Ek wil ook graag raadslid Ben van Wyk, lid van die paaie-portefeulje komitee in die Tuinroete Distriksmunisipaliteit asook Jongilizwe Tyatya, ANC-sweep in die Oudtshoorn Munisipaliteit, bedank, vir hul rol.”

Intussen berig Garnett Wicomb dat die Oudtshoorn Munisipliteit ’n dringende versoek tot die provinsiale wetgewer gaan rig om die kwessie van werks­ge­leenthede tydens die bou van die pad te bespreek. Dié voorstel is verlede Donderdag tydens ’n spesiale raadsvergadering deur raadslid Gaven Juthe (Sarco) ingedien, deur raadslid Hendrik Ruiters (DA) ge­sekondeer en eenparig deur die raad aanvaar.

Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, het verduidelik dat dit nie ’n munisipale projek is nie en dat die wyks­raads­lid vir Wyk 6, Jerome Lambaatjeen, wel gereeld met ontevredenes vergader.

Volgens Juthe is dit onaanvaarbaar dat die provinsie padbouwerk in die Oudts­hoorn-distrik laat doen sonder om die Oudts­hoorn Munisipaliteit te ken. Ruiters het gesê die werkloosheidsyfer op Oudts­hoorn is onrusbarend hoog. Volgens hom kan mense opgelei word vir die werk.

Tyatya het die aangeleentheid as ’n groot uitdaging bestempel. Hy het ’n beroep op raadslede gedoen om saam te werk om werksgeleenthede in die dorp te skep.

Lambaatjeen het by die vergadering reeds gesê hy het ’n voorstel aan die kontrakteur gemaak om werksgeleenthede te roteer sodat meer inwoners by die projek betrek kan word.