
Van die sypaadjiemense wat in Vredestraat op Oudtshoorn woon.
DIE kwessie van mense wat op straat woon, word in ’n ernstige lig beskou en ontvang tans aandag, sê die Oudtshoorn Munisipaliteit in reaksie op Die Hoorn se navraag oor die sypaadjiemense wat al etlike jare in Vredestraat langs die munisipale gebou woon.
Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, senior woordvoerder van die munisipaliteit, is een van die topprioriteite tans ’n skuiling vir haweloses.
“Die munisipale regulasies kan slegs toegepas word en effektief wees as daar geriewe of ’n skuiling vir haweloses beskikbaar is.”
Mangqwengqwe sê die munisipaliteit het reeds gesprekvoering begin met rolspelers soos die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, gemeenskapsorganisasies en die besigheidsektor.
Die Oudtshoorn-raad het voorts Dinsdag by ’n spesiale raadsvergadering goedkeuring verleen dat drie munisipale geboue wat nie tans gebruik word nie, aan die Departement Maatskaplike Ontwikkeling beskikbaar gestel word as skuilings (shelters).
Die drie geboue is die Centre of Hope-gebou wat beskikbaar gestel word vir die Game Changer Dignity Project, die Malibongwe-gebou as ’n skuiling vir haweloses en die ou Dysselsdorp Polisiegebou as skuiling vir slagoffers van geweld.
Die departement sal die koste van die opgradering en onderhoud van die geboue dra en ook die kontrole en bestuur daarvan hanteer.
’n Memorandum van Ooreenkoms sal tussen die munisipaliteit en die provinsiale Departement van Maatskaplike Ontwikkeling onderteken word. Die departement sal kwartaalliks aan die raad terug-voering verskaf oor die vordering met die projek en die status van programme.
Onder die dienste wat die departement sal uitkontrakteer, is kindersorg en -beskerming, gesinsorg en -ondersteuning, maatskaplike misdaad- voorkoming, gemeenskapsontwikkeling, dienste vir ouer persone, en mense met gestremdhede en dwelmafhanklikheid.