Moordsaak voortgesit teen twee oud-polisiebeamptes

Deur Garnett Wicomb
DIE verhoor van twee voormalige polisiebeamptes van Dysselsdorp wat van moord aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof met die getuienis van nog ’n oud- kollega voortgesit.

Konstabel April het getuig dat hy aan diens was toe die twee beskuldigdes, Dawid Voster en Daniel Lingerveld, die aand van 13 Januarie 2012 met die oorledene, Frank Links, by die Dysselsdorp Gemeenskapsentrum aange­kom het.

April het getuig Links het hom teëgesit en hy het later gesien hoedat Links bewusteloos op die grond lê en Lingerveld een keer op sy bors getrap het.

Volgens hom het hy nie gesien dat daar ’n bakleiery tussen die be­skuldigdes en die oorledene was nie.
Hy het wel gesien hoedat die twee beskuldigdes die oorledene agter ’n muurtjie in die gemeenskapsentrum skop en trap. Hy kon egter nie sien waar op sy liggaam hy getrap is nie.

Voster en Lingerveld se regs­verteen­woordiger, Christo van der Bergh, het dit aan April gestel dat hy leuens vertel omdat dit nie ooreenstem met die getuienis van al die ander polisiebeamptes nie, behalwe met dié van sers Jesica Wentzel met wie hy in ’n verhouding is.

Volgens Van der Bergh sal die beskuldigdes getuig dat April en Wentzel ’n storie teen hulle opmaak
Die saak dien voor streeklanddros Retha Pretorius en is vir verdere verhoor uitgestel.