
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ‘n man (42) van Oudtshoorn wat reeds vir langer as twee jaar in aanhouding is op ‘n moordklag, kom vandag (31 Augustus 2017) weer voor in die Oudtshoorn Streekhof vir slotargumente van die staat en die verdediging.
Melvin Stander word daarvan aangekla dat hy op Ou Kersdag 2014 vir Franky Oliphant (26) van Riemvasmaak doodgeskiet het. Hy voer egter aan dat dit iemand anders was wat die sneller getrek het omdat hy nie die betrokke aand op Oudtshoorn was nie.
Stander voer aan dat hy die dag twee mans by die ingang na Riemvasmaak afgelaai en daarna by sy suster op Matjiesrivier gaan kuier het. Hy het eers die volgende dag teruggekom.
Die laaste getuie wat deur die verdediging geroep is, David Swarts, het getuig dat dit nie Stander was wat vir Oliphant doodgeskiet het nie maar wel ” ‘n langerige man met die naam Marius”. Swarts is tans in aanhouding op ‘n ander saak.
Volgens Swarts het hy van die toneel weggehardloop omdat hy gevrees het dat hy ook gskiet sal word. Hy het vier skote hoor afgaan. Swarts het getuig dat hy besluit het om te kom getuig omdat ‘n onskuldige man in die tronk sit.
Hy het met kruisondervraging klei getrap en kon nie aan die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, verduidelik waarom hy nie ‘n verklaring aan die polisie gegee het nie. Weyers het dit aan Swarts gestel dat hy besig is om leuens in die hof te vertel.
Die saak dien voor streeklanddros Daniel Boks en adv Steven Lourens verskyn namens die beskuldigde.