Modder in die drinkwater

13 help met bote om dam skoon te maak

Vyf amptenare van die Oudtshoorn Munisipaliteit en agt vrywilligers van Impulse Karo, ’n inisiatief wat fokus op sen­dingwerk, lewensvaardighede, avontuur en dissipelskap, het gistermiddag met kano’s ingespring en ’n berg takke, stompe en ander plantmateriaal wat verlede week na stortreën in die Raubenheimerdam beland het, verwyder. Die troebel water in Oudtshoorn se krane is die direkte gevolg van modder en plantmateriaal wat as gevolg van die harde reën in die dam beland het. Meer hieroor op bladsy 2. Foto: Johan Uys

Vyf amptenare van die Oudtshoorn Munisipaliteit en agt vrywilligers van Impulse Karo, ’n inisiatief wat fokus op sen­dingwerk, lewensvaardighede, avontuur en dissipelskap, het gistermiddag met kano’s ingespring en ’n berg takke, stompe en ander plantmateriaal wat verlede week na stortreën in die Raubenheimerdam beland het, verwyder. Die troebel water in Oudtshoorn se krane is die direkte gevolg van modder en plantmateriaal wat as gevolg van die harde reën in die dam beland het. Foto: Johan Uys

Wie het al ooit die Raubenheimerdam so gesien? Dis hoe die dam die week gelyk het nadat stortreën verlede Woensdag modder, stompe, takke en ander plantmateriaal in die dam laat beland het. Foto: Pierre Oelofse

Wie het al ooit die Raubenheimerdam so gesien? Dis hoe die dam die week gelyk het nadat stortreën verlede Woensdag modder, stompe, takke en ander plantmateriaal in die dam laat beland het. Foto: Pierre Oelofse

’n Deel van die hope takke en stompe wat die munisipaliteit en helpers van Impulse Karo gister uit die water gehaal het. Foto: Johan Uys

’n Deel van die hope takke en stompe wat die munisipaliteit en helpers van Impulse Karo gister uit die water gehaal het. Foto: Johan Uys

Deur Liesel le Roux
DIE Oudtshoorn Munisipaliteit het vandeesweek weer ’n waar­skuwing uitgereik dat inwoners die dorp se kraanwater moet kook omdat die gehalte daarvan nie gewaarborg kan word nie.

Dit volg nadat massas modderwater na stortreën verlede Woensdag in die Raubenheimerdam ingevloei het.

Omdat die plantegroei in die opvangsgebied nog nie genoegsaam herstel het na ’n vernietigende brand in Desember 2016 nie, is daar tans niks wat die vloei van water teen die berghellings kan vertraag en filtreer nie.

Die vinnig vloeiende water het ook takke, stompe en plantmateriaal in die dam laat beland.

Volgens Johan Uys, bestuurder grootmaatwater by die munisipaliteit, is chlorinering minder effektief wanneer water troebel is.

“Ons wil aanbeveel dat mense die water drie minute lank kook wanneer dit so troebel is,” het hy gesê.

Die stortbui het gevolg net enkele ure nadat Oudtshoorn se water vroeër die dag veilig verklaar is. ’n Watertoets die voorafgaande Maandag het ’n verhoogde E coli-telling by een reservoir getoon, maar alle daaropvolgende toetse het getoon dat die E-coli-telling ook daar nul was.

Blossoms, nog ’n dam en ’n suiweringsaanleg

Oudtshoorn se direkteur tegniese dienste, Chris Koch, het vandeesweek aan Die Hoorn gesê die munisipaliteit skenk tans aandag aan verskeie wateropsies vir Oudtshoorn.

Eerstens moet die munisipaliteit ’n amptelike besluit neem of daar voortgegaan gaan word met boorwerk vir diepwater by Blossoms, ’n projek wat tydelik deur die vorige raad gestaak is. Die nasionale regering het vir die volgende twee jaar ’n bedrag geld hiervoor aan die munisipaliteit beskikbaar gestel wat vir geen ander projek aangewend mag word nie en die munisipaliteit sal verloor as nie met die projek voortgegaan word nie.

Tweedens hoop die munisipaliteit om steun en toestemming van die departement van waterwese te verkry vir die bou van ’n tweede dam in die Swartberge. Dit is egter bekend dat die bou van damme nie boaan die departement van waterwese se prioriteitslys is nie, en hulle eerder munisipaliteite aanmoedig om metodes te vind om water te spaar of afvalwater te suiwer of grondwater te ontgin.

Derdens is die munisipaliteit besig met voorlopige studies vir ’n watersuiwe­ringsaanleg in die toekoms.