PDSA se mobiele kli-niek voor die polisiestasie in Bridgton nadat Fiona Olieslager deur twee onbekende mans aangeval is. Foto Facebook
Deur Angelique Erasmus
’N LID van die PDSA (People’s Dispensary for Sick Animals), Fiona Olieslager, is Dinsdag in Dassieweg, Oudtshoorn deur twee onbekende mans aangeval en met ’n stukkende glasbottel gedreig.
Die mans het weggekom met R600 kontant wat in ’n donasieboks was en Olieslager se Samsung-selfoon.
Volgens Moira Gibbs, PDSA se praktykbestuurder op George, was Olieslager besig om diere te ent toe ’n onbekende man by die mobiele kliniek kom vra het hoeveel dit kos om sy hond te ent.
“Sy het aan hom gesê dat dit R60 kos, waarna hy R40 uit sy sak gehaal en aan haar vertel het dat hy net sy hond en nog R20 gaan haal.
“Die volgende oomblik het ’n glasbottel uit sy sak geval, wat op die grond gebreek het.
“Fiona het vir hom gesê dat sy ’n besem het en dit sal skoonmaak, maar die volgende oomblik het hy die grootste stuk glas opgetel en wou hy haar aanval.
“ ’n Tweede man het van buite af ingekom, en Fiona het toe verby die twee gedruk en uit die trok gespring en gehardloop.”
Gibbs sê die mans het vir Olieslager agternagesit. Sy het gestruikel en in ’n plas water en modder geval, en haar selfoon het uit haar hand geval.
Die twee mans het begin stry oor wie die selfoon gaan vat en Olieslager het begin gil.
’n Lid van die publiek wat in die omgewing woon, het haar noodkrete gehoor en haar te hulp gesnel, waarna die twee mans weggehardloop het.
Gibbs sê Olieslager het haar arm en been seergemaak met die val.
Sy het die voorval by ’n polisiekantoor gerapporteer.
“Na hierdie voorval is die diere ongelukkig weer die wat gaan swaarkry,” sê Gibbs.
Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die polisie ondersoek ’n klagte van roof.
Volgens kapt Louis Visser het drie ooggetuies verklarings afgelê.
Hy sê die mans wat Olieslager aangeval het, is bekend aan die ooggetuies en sal opgespoor en in hegtenis geneem word.
Die Hoorn het verneem dat die polisie sterk op die verdagtes se spoor is.