Mia help om R2,5 miljoen vir kogleêre inplantings in te samel

Mia le Roux tydens die lewendige uitsending van Good Morning Angels op Jakaranda FM. Foto: AboutSound Facebook.

Oudtshoorn se voormalige Mej. Suid-Afrika, Mia le Roux, het saam met Jacaranda FM se Good Morning Angels R2,5 miljoen ingesamel om kinders en volwassenes met ernstige gehoorverlies te help om kogleêre inplantings te ontvang.

Die Mandela-maand-inisiatief is in samewerking met Le Roux se AboutSound-projek aangepak. Die veldtog se doen was om sowat 20 operasies van staatspasiënte te finansier, maar danksy die groot ondersteuning van ondernemings en die publiek sal 25 mense nou gehelp kan word.

Le Roux, wat op Oudtshoorn grootgeword het, het in 2024 geskiedenis gemaak toe sy die eerste gehoorgestremde deelnemer geword het om as Mej. Suid-Afrika gekroon te word.

Sy het self op tweejarige ouderdom ’n kogleêre inplanting ontvang, wat haar met die nodige behandeling en terapie in staat gestel het om te hoor en te leer praat.

Deur AboutSound beywer sy haar nou daarvoor dat mense wat nie die behandeling kan bekostig nie, dieselfde lewensveranderende geleentheid ontvang.

Die pasiënte wat deur die projek gehelp word, is op die waglys van die Chris Hani Baragwanath Akademiese Hospitaal. Hoewel die nodige inplantingstoestelle reeds bekom is en die pasiënte hul mediese en oudiologiese ondersoeke ondergaan het, het die hospitaal nie genoeg teaterkapasiteit gehad om die operasies betyds uit te voer nie.

Die Ear & Eye Clinic in Meyersdal het gevolglik aangebied om drie operasies per maand teen ’n aansienlik verlaagde tarief uit te voer.

Dit het die koste van ongeveer R400 000 tot R700 000 vir ’n kogleêre inplanting tot gemiddeld R100 000 per operasie vir hierdie projek verminder.

Tydens ’n regstreekse uitsending van Breakfast with Martin Bester vanaf die Chris Hani Baragwanath-hospitaal op 15 Julie is aanvanklik R2 miljoen ingesamel.

Verdere skenkings het die bedrag tot R2,3 miljoen verhoog, waarna Goldrush nog R200 000 bygedra het.

Die finale bedrag van R2,5 miljoen beteken dat 25 pasiënte nou die nodige operasies kan ontvang.

Van die pasiënte is jong kinders wat nog nooit kon hoor of praat nie. Sommige van die volwassenes is ook die hoofbroodwinners in hul huishoudings. Die eerste drie pasiënte wat vir operasies op 23 Julie geskeduleer is, was Abdullah Myles (1), Amukelo Baloyi (2) en Moloko Mokgwana (9).

Le Roux se betrokkenheid by die projek spruit uit haar eie ervaring en haar begeerte om ander gehoorgestremde mense te ondersteun.

Die sukses van die veldtog wys wat moontlik is wanneer gemeenskappe, mediese personeel, ondernemings en die publiek saamwerk om lewens te verander en aan mense die geskenk van gehoor te gee. (ANGELIQUE ERASMUS)

Lees ook:

Mia maak geskiedenis

Nuwe seisoen vir mooiste Mia

Be the first to comment on "Mia help om R2,5 miljoen vir kogleêre inplantings in te samel"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*