KannaMed het onlangs sy span versterk met die aanstelling van dr. Conrad Schmidt, ’n algemene praktisyn wat ’n passie het vir persoonlike pasiëntesorg en daarna streef om langtermynverhoudings met sy pasiënte te bou.
Schmidt het aan die begin van Junie by KannaMed aangesluit. Nadat hy sy gemeenskapsdiens in Nelspruit voltooi het, het hy en sy vrou, Danielle, hulle in Klein Brakrivier gevestig. Hy het hoofsaaklik in George en Mosselbaai gewerk totdat die geleentheid ontstaan het om by KannaMed aan te sluit.
Schmidt sê hy en dr. Migael van Velden, wat verlede jaar ook as algemene praktisyn by KannaMed aangesluit het, bring saam nuwe energie na die praktyk. Hy voeg by dat dit vir hom ’n bonus is om die pad saam met Van Velden te stap, aangesien hulle ook goeie huisvriende is.
Hy verduidelik dat twee van sy ander kollegas by KannaMed, drs. David Welgemoed, ervare algemene praktisyn, en Nicolai du Toit, spesialis in familiegeneeskunde, ’n groot rol speel in sy professionele ontwikkeling.
“Ek hou daarvan om voortdurend te leer, en hulle is tans belangrike mentors vir my.”
Deurlopende professionele ontwikkeling is vir hom belangrik. Schmidt het reeds sy Diploma in Primêre Noodsorg (Dip PEC) verwerf en is tans besig om sy diploma in narkose (DA) te voltooi. Hy glo daarin om voortdurend sy kennis uit te brei om sy pasiënte die beste moontlike sorg te bied.
Volgens Schmidt het sy belangstelling in medisyne reeds op skool begin, waar biologie een van sy gunstelingvakke was. Die menslike liggaam en die manier waarop dit funksioneer, het hom nog altyd gefassineer en uiteindelik sy belangstelling in die mediese beroep aangewakker.
“Geen twee pasiënte is dieselfde nie en elke dag bring nuwe uitdagings. Maar dit is nie net die uitdagings wat my motiveer nie – om iemand te kan help maak my gelukkig. Dit is wat die beroep vir my so stimulerend en bevredigend maak,” vertel hy.
Schmidt voeg by dat hy wel aanvanklik ‘n loopbaan in boerdery oorweeg het, maar dat sy pa hom aangemoedig het om eerder medisyne te studeer. Hoewel hy steeds ’n liefde vir die buitelewe en boerdery het, is hy dankbaar dat sy lewenspad hom na die mediese beroep gelei het.
“Tog hou ek steeds vas aan die droom om eendag te kan boer en ’n stukkie grond in die Karoo te hê, iewers waar ek en my vrou sal kan ontspan. Ek glo en vertrou dat die Here op die regte tyd vir my ’n deur sal oopmaak om daardie droom te verwesenlik.”
Hy beskryf die span by KannaMed as een van die redes waarom hy so vinnig tuis gevoel het.
“Ons funksioneer soos ’n familie. Die dokters ondersteun mekaar en ons kan altyd op mekaar staatmaak. Dit skep ’n goeie werksomgewing, wat uiteindelik ook tot voordeel van ons pasiënte is.
“Ek waardeer ook die praktyk se benadering tot pasiëntesorg. Almal word dieselfde behandel. Dit is iets wat vir my baie belangrik is.
“Een van die dinge wat ek die meeste van ’n kleiner gemeenskap waardeer, is dat jy werklik verhoudings met jou pasiënte kan bou. Hier kan ’n mens saam met hulle op ’n gesondheidspad stap.”
Hy en Danielle, ’n arbeidsterapeut, het besluit om hulle in Oudtshoorn te vestig en hul toekoms hier saam te beplan. Volgens Schmidt het hulle gebid vir leiding oor waar hulle hul lewe moes begin en ’n baie duidelike bevestiging ontvang dat Oudtshoorn die regte plek vir hulle is. Vandag sê hy hulle voel tuis in die Klein Karoo en is dankbaar vir die hartlike ontvangs wat hulle van die gemeenskap gekry het.
Wanneer hy nie werk nie, geniet Schmidt die buitelewe. Hy hou van jag en visvang, neem deel aan driekamp, ry fiets en gaan stap. Tyd saam met familie is vir hom net so belangrik. Hoewel hy en Danielle nog nie kinders het nie, lag hy dat hulle reeds ’n “gesin van vyf” is met hul hond en twee katte.
Hy vertel ook laggend dat mense dink dokter wees is sy beroep, maar dat braai eintlik sy “regte werk” is.
Vir Schmidt is die bekende aanhaling, “Health is not merely the absence of disease”, een van die beginsels waarvolgens hy sy benadering tot gesondheid uitleef.
“Gesondheid bestaan uit fisiese, geestelike en emosionele welstand. Balans is vir my een van die belangrikste beginsels. Jy kan fisiek gesond wees, maar as jou geestelike of emosionele gesondheid nie goed is nie, beïnvloed dit jou hele lewe.”
Hy moedig mense ook aan om nie te wag totdat hulle siek voel voordat hulle ’n dokter besoek nie.
“Toestande soos hoë bloeddruk en diabetes ontwikkel dikwels sonder duidelike simptome. Gereelde ondersoeke help om dit vroeg op te spoor en beter te bestuur.”
Vir Schmidt is dokter wees meer as net ’n beroep; dit is ’n geleentheid om ’n verskil in mense se lewens te maak. Nou sien hy daarna uit om saam met die Oudtshoorn-gemeenskap die pad vorentoe te stap en verhoudings met sy pasiënte oor baie jare heen te bou.
“Ek wil hê mense moet weet hulle word gehoor. Ek wil hê hulle moet uitstap met die gevoel dat hulle belangrik is en dat daar regtig moeite gedoen is om hulle te help. As hulle met vertroue terugkom wanneer hulle my nodig het, weet ek ons het iets reg gedoen.” (MALISSA SPIES)

Be the first to comment on "Nuwe dokter sluit by KannaMed aan"