Elmarie laat groot leemte agter

Douglas en Elmarie Seton (Jonck). Foto: Facebook

Die skielike afsterwe van Elmarie Seton het Woensdagoggend skok en diepe hartseer vir haar geliefdes, familie, vriende en almal wat haar geken het gebring.

Haar man, dr. Douglas Seton, het Woensdagoggend bekendgemaak dat Elmarie die vorige aand vreedsaam en sonder lyding in haar huis oorlede is. “Sy het ’n vol lewe gelei waarin haar kreatiwiteit, liefdevolle hart en opregte omgee vir ander telkens na vore gekom het.” Lui die inskrywing.

Elmarie was ’n ware raakvatter wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie. Waar sy gegaan het, het sy geskep, gebou, gekook, gebak en mense met haar warmte saamgetrek.

Sy was destyds onder die mense wat gehelp het om Smitswinkel op die been te bring en was ook betrokke by die gewilde Orchid-buitelugmark.

Die mark, wat op Vrydagaande onder die appelkoosboorde aangebied is, het ’n geliefde kuierplek geword waar mense kon eet, koop en saamkuier. Later het sy ook haar kreatiewe stempel by Mamash afgedruk – ’n onderneming wat bekend was vir sy koffie, koeke, dekor en besondere atmosfeer.

Haar groot liefde was egter kosmaak. In ’n profiel wat ProAgri verlede jaar oor haar gepubliseer het, het Elmarie vertel dat kosmaak al was wat sy ooit wou doen. Sy het reeds as vyfjarige op ’n Aga-stoof leer kook en haar liefde vir tradisionele boerekos, altyd ’n besondere kinkel, deur haar lewe saamgedra.

Sy het groot spysenieringsgeleenthede aangepak, die mooiste en heerlikste koeke gebak en kos gemaak wat mense om ’n tafel saamgebring het. By Duiwekloof in die Baviaanskloof het sy vrugte en groente uit die plaas se boorde en tuine omskep in konfyt, blatjang en ander ingelegde lekkernye.

Haar tamatie-en-rissiekonfyt en gekruide kwepers is in Augustus 2025 by die Suid-Afrikaanse Inmaakkampioenskap as kampioene in hul onderskeie afdelings aangewys. Sy het ook voorheen in die gewilde televisieprogram Plaaskombuis verskyn.

Maar Elmarie se grootste nalatenskap lê nie in die pryse wat sy gewen het of die besonderse disse wat sy gemaak het nie. Dit lê in die mense wat sy liefgehad, versorg en met haar kreatiwiteit en mooi menswees aangeraak het.

Boodskappe van medelye en ondersteuning het sedert Woensdagoggend van oral ingestroom vir Douglas, haar vier kinders, familie, vriende en geliefdes, haar diere en deur die talle mense wie se lewens sy oor dekades heen aangeraak het.

Douglas skryf dat Elmarie hulle met baie kosbare herinneringe agterlaat en dat hulle oneindig ryker is vir die tyd wat hulle saam met haar kon deel.

Met ’n gebroke hart het hy sy huldeblyk met die woorde afgesluit: “Free at Last!”

Elmarie se hande het vir niks verkeerd gestaan nie – maar dit was haar hart wat haar werklik besonders gemaak het.

Haar liefde, haar kos, haar kreatiwiteit en haar mooi siel sal nog lank voortleef in almal wat die voorreg gehad het om haar te ken. (ANGELIQUE ERASMUS)

Be the first to comment on "Elmarie laat groot leemte agter"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*