DIE Ambassador Care Centre, welsynsarm van die Ambassador Pinkster Kerk in Bridgton, het vir die tweede jaar ’n baie geslaagde weeklange skoolvakansieprogram by die kerk aangebied.
Meer as 200 jong kinders het volgens past Prince Carolus die week se aktiwiteite bygewoon.
Sy boodskap aan die kinders was om hul vriende versigtig te kies. “Jy gaan aan hulle uitgeken word,” het hy gesê.
Die Ambassador Care Centre is volgens Carolus ’n nie-winsgewende organisasie en die vakansieprogram is daarop gemik om kinders gedurende die tyd besig te hou.
Hy het die jongspan aangemoedig om hul ouers se waarskuwings teen verkeerde vriende ernstig op te neem. Hy het hulle daarop gewys dat die gemeenskap jou meet aan wie jou vriende is.
Die sentrum gee ook in die winter, na skool, sop en broodjies aan kinders van die onmiddellike omgewing van die kerk neffens die Bridgton Sportgronde.
Die vakansieprogram word moontlik gemaak deur die finansiële ondersteuning van die Wes-Kaapse Departement Veiligheid en Sekuriteit.
Carolus het ook sy dank uitgespreek teenoor die Suid Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Honde-Eenheid en Poppekas in Oudtshoorn asook die Jeugvereniging van die kerk wat die jong kinders behoorlik vermaak het.