Man wat vermeende dief doodskiet, vrygespreek

Die Oudtshoorn Landdroshof.

Die Oudtshoorn Landdroshof.

Deur Garnett Wicomb
’n Bejaarde man (68) wat ’n vermeende dief in die nag op sy erf in Parkweg doodgeskiet het, is vanoggend in die Oudtshoorn streekhof vrygespreek en ontslaan.

Streeklanddros Mark van Wyngaardt het bevind dat die staat nie bo redelike twyfel kon bewys dat die beskuldigde, Benjamin Joubert, se lewe en dié van sy vrou, nie in gevaar was toe hy die skoot die aand van 10 Desember 2015 afgevuur het nie.

Joubert het in sy pleitverduideliking aangevoer dat hy uit noodweer opgetree het toe die 19-jarige Raymond Oliphant, omstreeks twee-uur die oggend op hom afgestorm het. Die skoot het die oorledene aan die kant van die kop getref en hy is op die toneel dood.

Hy het onmiddellik na die voorval sy weergawe aan die polisie gegee en oop kaarte gespeel.

“Die waarskynlikheid is dat dat beide die beskuldigde en die oorledene geskrik het toe Joubert op ‘n los teël getrap het,” het die landdros gesê.

“Die hof moet afleidings maak omdat die beskuldigde nie getuig het nie en die enigste redelike afleiding is dat sy lewe en dié van sy vrou moontlik in gevaar kon wees.”

‘n Minderjarige wat saam met Oliphant was, het erken dat hulle die betrokke nag wou steel.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het versoek dat Joubert skuldig bevind word aan moord. Sy het gesê hy het met sy vuurwapen na buite gegaan om iemand te skiet.

“Die staat sou sy weergawe aanvaar het indien hy die oorledene van voor sou geskiet het,” het die aanklaer gesê.

Joubert se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het vir sy vryspraak gevra. “Daar is geen prima facie-getuienis voor die hof om die beskuldigde aan moord of strafbare manslag skuldig te bevind nie,” het Van der Bergh gesê.

Daar is ook geen geuienis dat die oorledene van agter geskiet is of dat hy probeer weghardloop het nie.

• ’n Broer van die oorledene het na die landdros se uitspraak hardop geskree dat Joubert vrygespreek is “omdat hy ’n witman is.”

“Dit is onregverdig. My broer is doodgeskiet,” het die man gesê.

Toe hy buite die hof steeds sy ontevredenheid in die nabyheid van Joubert en sy eggenoot te kenne gegee het, is hy deur Van der Bergh gewaarsku dat hy hom sal laat in hegtenis neem indien hy voortgaan om Joubert te dreig.