Man wat baba en saamleefmaat aanrand onder huisarres

hof-images (3)

‘N MAN (24) wat sy baba van ‘n jaar en vyf maande geslaan en die kind se ma geklap het, is verlede week in die Oudtshoorn Streekhof aan aanranding skuldig bevind en onder huisarres geplaas.

Marlin Oktober van Oudtshoorn het tereg gestaan op klagtes van aanranding om ernstig te beseer, maar skuldig gepleit op aanranding gewoon. Hy het erken dat hy die kind met die plat hand geslaan het toe die kind nie wou ophou huil nie en daarna ook die kind se ma wat glo onder die invloed van drank was toe sy nie die kind wou borsvoed nie.

Hy het ontken dat hy hulle ernstig wou beseer.

Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof versoek om Oktober ‘n swaar opgeskorte vonnis op te lê

“wat soos ‘n swaard oor sy kop kan hang”.

Oktober se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die aangeleentheid as ‘n hartseersaak beskryf. “Dit is eintlik ‘n tragedie,” het hy gesê.

Streeklandros Daniel Boks het voor vonnisoplegging Oktober se saamleefmaat, Jessica Damons, laat roep en albei behoorlik die leviete voorgelees. Ook Damons se moeder wat haar stem uit die banke laat hoor het, is nie die roede gespaar nie.

” ’n Kind wat huil, gee nie die ouers die reg om hom of haar te slaan nie. Dit is nie vaderlike of moederlike plig nie.”

Hy het die twee gedreig dat hy hul kinders van hulle sal laat wegneem indien hulle nie op ordentlike manier na hulle kan omsien nie.

Aan die vrou se ma het die landdros gesê dat haar dogter die verantwoordelikheid moet neem om haar eie kind groot te maak. “Ouers wat in die bresse tree vir hul kinders se nalatigheid is nie reg nie. U soek regverdiging vir die kinders se verkeerde optrede.”

Oktober is gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is, behalwe vir werk- en kerkdoeleindes. Hy moet sestien uur per maand gemeenskapswerk doen, hom onderwerp aan rehabilitasieprogramme van korrektiewe dienste en hom weerhou van die gebruik van alkoholiese drank en dwelms. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapenlisensie te bekom. (Berig deur Garnett Wicomb)