Verskeie atlete uit die Klein Karoo het die naweek die 99de uitdagende Comrades-marathon suksesvol voltooi en die streek trots gemaak met uitstekende vertonings.
Van ervare Comrades-veterane tot atlete wat die legendariese ultramarathon vir die eerste keer aangepak het, elkeen het sy eie merkwaardige verhaal gehad.
Die beste prestasie deur ’n atleet met sterk bande met die Klein Karoo was dié van Lloyd Bosman van Pacaltsdorp. Bosman het die ongeveer 89 km lange af-wedloop tussen Pietermaritzburg en Durban in ’n uitstekende 5:28:53 voltooi om sewende algeheel te eindig.
Hierdie was ook die eerste keer dat hy aan die uitdagende marathon deelgeneem het. Hoewel Bosman in Pacaltsdorp woon, is hy ’n bekende gesig by plaaslike trail runs en marathonne in die Klein Karoo en neem gereeld hier deel.
Onder die Klein Karoo-atlete was daar verskeie persoonlike mylpale.
William van Tonder, ’n oudleerder van Langenhoven Gimnasium, het sy eerste Comrades-marathon aangepak en met ’n uitstekende tyd van 8:51:38 klaargemaak. Om by ’n debuut onder die nege-uur-kerf klaar te maak, is ’n merkwaardige prestasie wat van deeglike voorbereiding en deursettingsvermoë getuig.
Ook Tyron-Lee Andries, nóg ’n oudleerder van Langenhoven Gimnasium, het sy Comrades-debuut gemaak. Hy het die eindstreep in 9:06:54 oorgesteek en daarmee sy eerste Comrades-medalje verower.
Björn Uys het sy negende Comrades-marathon suksesvol voltooi. Hy het die wedloop in 10:32:29 afgehandel en sodoende nóg ’n Comrades-medalje by sy indrukwekkende versameling gevoeg.
Vir Jason Jafta was dit nog ’n besondere mylpaal toe hy sy 33ste Comrades-marathon voltooi het. Met ’n tyd van 11:45:04 het hy weer eens bewys waarom hy as een van die Klein Karoo se mees ervare ultrahardlopers beskou word.
Om meer as drie dekades lank die wêreld se bekendste ultramarathon aan te pak, verg buitengewone toewyding en liefde vir die sport. Hy was sommer hierdie week weer aan die oefen, net ’n bewys van sy uithouvermoë asook toewyding tot die sport.
Johnny Cinnio Witbooi van Dysselsdorp het ook die uitdagende wedloop suksesvol voltooi en die eindstreep in 11:55:11 bereik.
Msonjane Director Ntantiso het ná ure se deursettingsvermoë die eindstreep in 12:41:53 oorgesteek en daarmee bewys dat vasbyt en karakter die kern van die Comrades-gees vorm.
Die Comrades-marathon, wat sedert 1921 aangebied word, word wêreldwyd as die oudste en grootste ultramarathon beskou.
Duisende atlete pak jaarliks die uitdagende roete tussen Pietermaritzburg en Durban aan, maar slegs maande se voorbereiding, opoffering en geestelike weerbaarheid maak dit moontlik om die gesogte Comrades-medalje te verower.
Van elite-atlete wat vir top-10-posisies meeding tot deelnemers wat hul eerste medalje verower of hul derde dekade van deelname vier, het die Klein Karoo se atlete weer eens gewys dat hulle hul man kan staan op een van die wêreld se grootste sportverhoë.
Die uiteenlopende prestasies van Bosman, Van Tonder, Andries, Uys, Jafta, Witbooi en Ntantiso is ’n bewys van die streek se hardloopkultuur en die deursettingsvermoë waarvoor Comrades-deelnemers bekend is.
Vir die wat die naweek bietjie wil bene rek – op Saterdag 20 Junie sal ’n 4,6 en 8 km-landloop plaasvind vanaf 10:00.
Die wegtrek is vanaf Langenhoven Gimnasium. Registrasie vind van 08:00 plaas. (ANGELIQUE ERASMUS)
Klein Karoo-atlete wys hul staal by die 2026 Comrades
Van links: Björn Uys, Leon van der Merwe en Jason Jafta, William van Tonder en Tyron-Lee Andries, en Lloyd Bosman. Foto’s verskaf.