’n Bedrogsaak wat onlangs by die Oudtshoorn-polisiestasie geregistreer is, tesame met ’n mosie van wantroue wat teen die uitvoerende burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit, Mziwoxola Tyatya, ingedien is, het die fokus op beweerde onreëlmatighede rondom reis- en verblyfseise geplaas.
Raadsheer Johan Allers het op 5 Junie 2026 ’n strafregtelike klagte by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aanhangig gemaak onder saaknommer Oudtshoorn MAS 67/06/2026.
Volgens die beëdigde verklaring hou die klagte verband met bewerings dat ’n uitvoerende raadslid van die Groter Oudtshoorn Munisipaliteit moontlik reis- en/of verblyfvergoeding van die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (SALGA) geëis en ontvang het vir ’n reis na Caledon op 10 en 11 Mei 2026, terwyl daar terselfdertyd na bewering van ’n amptelike munisipale voertuig gebruik gemaak is.
In die verklaring word versoek dat ondersoek ingestel word na die omstandighede waaronder die SALGA-eis ingedien en uitbetaal is, asook of enige dubbele vergoeding, onregmatige persoonlike voordeel of wanvoorstelling moontlik plaasgevind het.
Die jongste klagte volg op ’n vorige bedrogsaak wat gedurende Mei 2026 deur Allers by die SAPD aanhangig gemaak is. In daardie ondersoek word beweerde onreëlmatige uitgawes, betalings, finansiële prosesse en die moontlike onregmatige gebruik van openbare fondse ondersoek.
Verskeie senior amptenare en ander rolspelers kan na verwagting verklarings aflê namate die ondersoeke vorder. Intussen het die VF Plus, die DA en Icosa ook ’n mosie van wantroue teen die uitvoerende burgemeester van die Oudtshoorn-munisipaliteit ingedien.
Volgens die mosie spruit die aangeleentheid uit dieselfde breër bewerings rakende ’n moontlike onreëlmatige SALGA-reis- en/of verblyfseis wat verband hou met die Caledon-reis gedurende Mei vanjaar.
Die mosie voer aan dat die bewerings ernstige vrae laat ontstaan oor moontlike dubbele vergoeding, wanvoorstelling, onregmatige persoonlike voordeel en/of die gebruik van munisipale hulpbronne. Die mosie is reeds deur die speaker ontvang en sal na verwagting tydens ’n komende raadsvergadering oorweeg word.
Die partye wat die mosie ondersteun, beklemtoon egter dat die mosie nie ’n bevinding van skuld verteenwoordig nie en dat enige strafregtelike ondersoek die verantwoordelikheid van die polisie, die Nasionale Vervolgingsgesag en uiteindelik die howe bly. Adjudant-offisier Christopher Spies, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het bevestig dat die aangeleentheid steeds ondersoek word.
“Die saak waarna verwys word, hou verband met ’n bedrogsaak wat steeds deur die polisie ondersoek word. Niemand is in verband met die aangeleentheid in hegtenis geneem nie. Die polisie kan in hierdie stadium nie besonderhede van die betrokke individue bekend maak nie,” het Spies gesê. (KORRESPONDENT)
Bedrogondersoeke en mosies plaas Oudtshoorn se raad onder vergrootglas
Foto: Angelique Erasmus