
Van links is landdros Mark van Wyngaardt, Christo van der Bergh (regsverteenwoordiger van Ben Joubert), adv Michelle Weyers (staatsaanklaer) en ao Martin Pepper van die Oudtshoorn Polisie tydens ’n besoek aan Joubert se erf verlede jaar. Foto: Die Hoorn
’N BEJAARDE inwoner van Oudtshoorn, Ben Joubert (69), is vanoggend in die Oudtshoorn Streekhof vrygespreek op ’n aanklag van moord.
Joubert het in die vroeë oggendure van 10 Desember 2015 die 18-jarige Raymond Oliphant in sy erf in Parkweg op Oudtshoorn aangetref en op hom geskiet. Oliphant is op die toneel dood.
Streeklanddros Mark van Wyngaardt het bevind dat die hof op grond van getuienis wat aangebied is, die afleiding moet maak dat Joubert die nag uit noodweer opgetree het.
Die getuienis van ’n minderjarige wat saam met Oliphant die nag in Joubert se erf was, is deur die hof as gevolg van verskeie weersprekings as leuenagtig verwerp, terwyl Joubert nie getuig het nie. Volgens Van Wyngaardt moes die hof dus afleidings maak uit Joubert se verklaring, die getuienis van polisiebeamptes en kenners wat deur die staat geroep is, en ’n besoek aan Joubert se huis.
Familielede van Oliphant was na die uitspraak erg ontstig oor die uitspraak.