Liefde en deursettingsvermoë lei Oudtshoorn se Lezer Pedersen

Lezer Pedersen (middel), saam met sy oupa Flip Bekker, sy ma Mariska Pedersen, sy suster San-Mari Pedersen, en sy ouma Sandra Bekker by sy gradeplegtigheid. Onder: Lezer Pedersen voltooi sy BSc-graad in biodiversiteit en ekologie. Foto’s verskaf

Toe Lezer Pedersen in Februarie vanjaar met sy BSc honneurs in biodiversiteit en ekologie begin het, was dit nog ’n belangrike mylpaal op ’n pad wat al jare deur volharding gekenmerk word.

Vir die jong man van Oudtshoorn en sy familie was dit die voortsetting van ’n reis wat wys dat outisme nie ’n grens op drome hoef te plaas nie.

Lezer het sy skoolloopbaan in 2011 aan Principia Primêre Skool begin en in 2022 aan Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer. Daarna het hy sy studies aan die Universiteit Stellenbosch (US) voortgesit. Aan die einde van Desember 2025 het hy sy BSc-graad in biodiversiteit en ekologie binne drie jaar voltooi. In Februarie 2026 het hy met sy honneursstudie begin.

Volgens sy ma, Mariska Pedersen, was sy akademiese reis van die begin af ’n spanpoging. Sy beskryf dit as ’n pad van groei en vasbyt. “Opgee was nooit ’n opsie nie,” sê sy.

Sy ma, ’n onderwyser by Laerskool Wesbank, het genoem dat sy tog kans sal sien om sy storie te deel, alhoewel sy ’n private persoon is, nadat Lezer se oupa, Flip Bekker, die inisiatief geneem het om dit met Die Hoorn te deel. Lezer se ouma, Sandra Bekker, en sy oupa is ongelooflik trots op hulle kleinseun en het gesê dit is ’n mooi voorbeeld van liefde, ondersteuning en deursettingsvermoë.

“Dit sou moeilik gewees het om stil te bly oor so iets omdat ons met soveel trots sit. Saam met dit is ons ook trots op ons dogter Mariska wat die pad saam met Lezer stap en soveel ondersteuning bied. Sy suster San-Mari, ’n tweedejaarstudent wat datawetenskap aan die US studeer, speel ook ’n groot ondersteunende rol in sy lewe. Dit is ’n mooi verhaal van hoe ’n familie kan saamstaan,” vertel Flip. Lezer se ouma sê hulle kleinseun is ’n inspirasie vir almal wat hom ken.

Met ’n outismediagnose moes Lezer leer funksioneer in ’n universiteitsomgewing wat nie aangepas was vir sy sensoriese behoeftes en manier van leer nie.

Waar daar tydens sy skooljare meer direkte ondersteuning was, moes hy op universiteit hoofsaaklik staatmaak op assistiewe tegnologie. Hy moes aanpas by groter selfstandigheid en nuwe verwagtinge, maar het nooit toegelaat dat struikelblokke hom definieer nie.

Akademiese lees- en skryfwerk bly uitdagend. Hy maak tydens eksamens gebruik van ’n skrywer en leser, asook programme wat teks kan voorlees en skryf. ’n E-reader pen en die ondersteuning van sy oupa (’n oud-onderwyser) help hom met leeswerk. Baie ure en harde werk het ’n groot rol in sy sukses gespeel.

Sy onderwysers by Struisies en later sy dosente by US het nog altyd hoë verwagtinge van hom gehad. Dit het hom gemotiveer om verantwoordelikheid vir sy eie leer te neem. Sy familie was sy anker en het doelbewus ’n omgewing van stabiliteit en roetine geskep waarbinne hy kon funksioneer.

Lezer se sterkpunte lê in sy vermoë om probleme te ontleed en oplossings te vind. Hy verstaan konsepte deeglik en onthou feite met gemak.

“Van Lezer se grootste sterkpunte is sy analitiese denke en oplossingsvaardighede. In sy veld van studie is dit ’n groot voordeel,” vertel Mariska.

“Hy werk graag met kodering en statistiek, en hy het ’n ongelooflike breë algemene kennis. Hy kan gemaklik gesels oor geskiedenis, geografie en biologie, en sy nuuskierigheid maak dat hy oor alles iets weet.”

Buiten sy studies oefen hy daagliks om gesond te bly. Hy geniet staproetes in die natuur en stel belang in wêreldgeskiedenis en politiek. Volgens sy ma is hy opreg en vasberade, met ’n omgee-hart en ’n liefde vir die natuur. Sy geloof bly ’n vaste rigtingwyser in sy lewe.

Met sy honneursstudie sien Lezer daarna uit om betrokke te raak by projekte in natuurbewaring en omgewingsimpakstudies. Hy wil sy kennis gebruik om ’n sinvolle bydrae te maak in ’n veld waarvoor hy ’n diep passie het.

Vir ouers en jongmense wat soortgelyke uitda-gings beleef, sê Mariska ’n diagnose is nie ’n eindpunt nie, maar die begin van ’n nuwe reis, ’n ander manier van leer en dink. Struktuur en roetine maak ’n verskil. So ook ’n ondersteuningsnetwerk en geduld met die proses. Haar boodskap is eenvoudig: met deursettingsvermoë is meer moontlik as wat mens dink.

Lezer se inspirerende verhaal wys dat alhoewel outisme met heelwat uitdagings gepaard gaan, dit drome nie hoef te beperk nie. Met vasberadenheid en geloof stap hy sy pad doelgerig vorentoe. (MALISSA SPIES)