Hier is die De Rust 2026 braaibroodjie wenners

Foto verskaf.

Die 4de jaarlikse Klein Karoo Braaibroodjiekompetisie het Saterdag by die Hotel De Rust plaasgevind, waar 13 spanne hul beste braaibroodjies gemaak het om beoordelaars se smaakkliere te kielie – alles vir ’n goeie doel.

Dit was ’n dag vol braaigeure, kreatiewe resepte, en selfs ’n verrassings-broodjie of twee en baie goeie gees onder deelnemers en toeskouers.

Fondse wat tydens die geleentheid ingesamel is, gaan aan Pediatric Care Africa, wat ondersteuning aan kinders in nood bied. Daar is meer as R7 000 die dag vir die organisasie ingesamel met braaibroodjie verkope en inskrywings.

Volgens Werner Alberts, een van die organiseerders, was die dag ’n groot sukses, met deelnemers wat hul kulinêre vernuf op die kole gewys het. “Beoordelaars het definitief ’n moeilike taak gehad om die beste braai-broodjie te kies tussen al die lekker en interessante kombinasies,” vertel hy.

Daar was ook vanjaar verskeie kategorieë, soos die kreatiefste braaibroodjie, braafste braaibroodjie-span, beste tradisionele braaibroodjie en die span met die beste gees.

Die algehele wenners was: Die Braai Dolla’s, Christine le Roux en Dolla Bruce. Hulle het die wisseltrofee ontvang, asook R5 000 kontant. Die kontantprys is in drie gedeel waarna ’n derde aan Pediatric Care vir baba Caleb van Wyk se operasie geskenk is.

Een van die kompetisie reëls is dat brood nie self gebak mag word nie, en dit ’n standaard winkelbrood moet wees, Die Braai Dolla’s het ’n ongesnyde brood geneem en hom in die lengte gesny om uit die boks te dink. Daar was ook minder korsies.

Hulle wenkombinasie was bakkersbrood met biltongsmeerkaas, rooi uie, All Gold tamatiesous, soetrissie blatjan, tamatie, cheddarkaas, vars basiliekruid en sout en pepper na smaak. Die broodjies is ook in waspapier toegedraai en so op die rooster gebraai om te verseker hulle brand nie en die kaas smelt oral.

Wenners in die ander kategorieë is bederf met braaigereedskap, geskenkbewyse en iets koud vir die keel. Die dag het ook ’n geleentheid gebied vir gemeenskapslede om saam te kuier.

Ekstra braaibroodjies is ook te koop aangebied en toeskouers het behoorlik gesmul aan die verskeidenheid kombinasies.

Die organiseerders het hul dank uitgespreek teenoor die spanne wat deelgeneem het, asook die borge en ondersteuners wat die geleentheid moontlik gemaak het.

“Dit was weer ’n ongelooflike dag by Hotel De Rust. Die braaigees en gemeenskapsbetrokkenheid maak hierdie kompetisie elke jaar spesiaal,” sluit Alberts af.

Met nog ’n suksesvolle jaar agter die rug, sien die organiseerders reeds uit na volgende jaar se kompetisie.