Deur Garnett Wicomb
TWEE mans van Oudtshoorn wat van roof met verswarende omstandighede aangekla was, is in die streekhof op dié klagte onskuldig bevind.
Hulle is egter deur streeklanddros Retha Pretorius aan roof (gewoon) skuldig bevind.
Mervin Baartman en Sabilo Madikane was daarvan aangekla dat hulle die aand van 15 September 2017 die 18-jarige Shavros Prins op die hoek van Sesdelaan, Bongolethu, met ’n mes gedreig. aangerand en van sy selfoon ter waarde van R600 beroof het.
Volgens Prins was hy en sy tante, Chivonne Prins, van ’n kitsbank by die Thusong Sentrum onderweg na ’n kafee toe hulle deur die twee beskuldigdes voorgekeer is.
Hulle het die mans glo vroeër die aand daar sien staan en albei verdagtes is aan hulle bekend.
Die twee se regsverteenwoordiger, Eugene Roos, het vir hul vryspraak gevra omdat die getuienis volgens hom so swak was dat dit nie eers vir die beskuldigdes nodig was om daarop te antwoord nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het bevind dat daar geen getuienis voor die hof is dat die beskuldigdes ’n mes in die aanval gebruik het nie, en hulle aan roof skuldig bevind.
Vonnisoplegging is tot 20 Augustus uitgestel.