DIE saak teen ’n gastehuis eienaar van Oudtshoorn wat skuldig gepleit het op ’n klagte van seksuele aanranding is in die streekhof vir ’n kor-rektiewe verslag en vonnis uitgestel.
Die 73-jarige Johan Scholtz sê in ’n pleitverduideliking dat hy op 24 Maart 2022 iemand gekry het om die gastehuis skoon te maak.
Terwyl die vrou (22) daarmee besig was het hy ’n paar glase rooi wyn gedrink.
Hy het dronk geraak waarna hy nie kan onthou wat hy verder gedoen het nie.
Die polisie het hom die volgende dag besoek en meegedeel dat hy van seksuele aanranding aangekla word.
“Die klaer het aan die polisie gesê dat ek aan haar borste gevat het en ek kan dit vanweë die toestand waarin ek was nie betwis nie.”
Scholtz sê verder dat hy al voorheen dronk was en weet dat wanneer jy dronk is jy dinge doen wat jy nie van weet en nie kan onthou nie.
Hy erken in sy verklaring dat dit waar kan wees en pleit daarom skuldig.
Die klaer sê in haar verklaring dat sy nie die beskuldigde se naam op haar CV aangebring het nie omdat sy bang was hy gee haar ’n slegte verwysing.
“Ek voel ’n vrees elke keer as ek die beskuldigde in die openbaar sien en kry nog nagmerries.’’
Sy het ook gesukkel om intiem met haar kêrel te verkeer.
Die staat het Scholtz se pleitverduideliking aanvaar en hy is deur streeklanddros Daniel Boks skuldig bevind. Die saak is daarna op versoek van sy regsverteenwoordiger, Brian Carelse van die plaaslike regshulpraad, vir ’n korrektiewe verslag en vonnisverrigtinge uitgestel tot 14 April.