Fees van sport skop Vrydag af

Foto: Facebook

Die tweede Klein Karoo Saad-Gimmie Sporttoernooi skop Vrydag om 15:20 af met ’n hokkiewedstryd tussen Hoërskool Oudtshoorn en Wittedrift Hoërskool se dogterspanne op die Astro-baan by Langenhoven Gimnasium, op Oudtshoorn.

Hierdie naweek belowe om ’n fees van sport te wees, met 18 hoërskole van die Wes- en Oos-Kaap wat kragte meet in rugby-, hokkie- en netbalwedstryde.

Om 19:00 Vrydagaand vind daar ’n openingseremonie plaas waar elke skool in hul skool- of spanklere aantree, met die span-kaptein en onderkaptein wat hul skole se vlag trots dra.

Op Saterdagoggend begin die wedstryde vroeg, met die eerste spanne wat reeds om 07:00 afskop.
Sondag kry besoekende spanne die geleentheid om Oudtshoorn te verken asook ’n nie verpligtende spesiale Kerkdiens wat 08:00 in die skoolsaal plaasvind.

Op Maandag 27 April is dit weer tyd vir aksie wanneer die eerste spanne om 07:00 uitdraf vir die dag se wedstryde. Alle kragmetings sal teen 15:00 afgehandel wees, waarna spanne terugkeer huis toe.

Toeskouers moet van die volgende reëlings kennis neem:
Die C-rugbyveld word as parkeerarea vir ouers en toeskouers gebruik. Die koshuishek is slegs vir spanne, beamptes en personeel.

Daar sal heerlike kos en drinkgoed te koop wees tydens toernooi.
Toegangsfooie is by die hek betaalbaar teen R10 per persoon en R20 per voertuig. Kaartfasiliteite is beskikbaar.

David Malan, besturende direkteur van Klein Karoo Saad, het die volgende boodskap aan die sportspanne gerig: “Welkom aan elkeen wat in Oudtshoorn kom deelneem. Dit is vir my ’n groot voorreg om almal hier te verwelkom in die pragtige Klein Karoo.”

Hy voeg verder by dat sy wens vir elke speler is om nie net suksesvol te wees nie, maar ook om die naweek voluit te benut, elke geleentheid aan te gryp en die sportgees met integriteit en passie uit te leef.
“Mag hierdie toernooi nie net ’n hoogtepunt wees nie, maar ook ’n geleentheid vir groei, sportgees en trots,” sluit sy boodskap af.

Carl Snyman, skoolhoof van Langenhoven Gimnasium, het Malan se verwelkoming beaam en bygevoeg dat dit ’n groot voorreg is om spanne hier in die hart van die Klein Karoo te verwelkom.

“Vanjaar spog die toernooi met ’n indrukwekkende 12 rugbyspanne, sewe seuns- en 11 dogtershokkiespanne, asook agt netbalspanne. Hierdie getalle getuig van groei, entoesiasme en ’n sterk sportgees wat ons saam vier,” sê Snyman.

Hy het ook elke span sterkte toegewens vir hul wedstryde. Vir die volledige program, besoek gerus Gimmies se Facebook-blad vir ’n skakel na die aanlyn program. (ANGELIQUE ERASMUS)