Beatrice Stuurman (54) en haar kleinkind, Camo-nique (3), by haar huis wat in puin gelê is. Skenkings vir die familie wat alles verloor het, kan by die Turnberry Boutique Hotel in St Johnstraar afgegee word. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
’N FAMILIE van Oudtshoorn het Dinsdagaand al hul besittings in ’n verwoestende brand in Leeubekkieweg in Bridgton verloor. Die brand het net na 18:00 ontstaan.
Volgens Beatrice Stuurman het haar dogter, Maroline, gesien dat daar vlamme tussen die huis en ’n opslaanhut is.
Stuurman, haar vier kinders, ses kleinkinders en haar suster bly op die erf.
Haar man is sowat sewe jaar gelede oorlede.
“Ek en my een kleindogter, Camonique het op die bank gelê en TV kyk,” vertel sy.
Toe sy van die brand hoor het sy heel eerste die gaskan gegryp en dit na buite geneem.
In daardie stadium het die brand reeds na beide geboue begin versprei.
“Ek besef toe my kleinkind lê nog op die bank, en het ingehardloop om haar te gaan haal.”
Die hele huis en al die besittings het begin brand.
“Ek is net dankbaar dat niemand van ons in die brand omgekom het nie,” het ’n geskokte Stuurman gesê.
’n Jong hondjie is egter in die brand dood.
Stuurman sê die oorsaak van die brand is nie bekend nie, maar daar word vermoed dat ’n krag-kabel tussen die huis en opslaangebou dalk die oorsaak van die brand kon wees.
• Die familie het ’n dringende behoefte aan klere en enige ander skenkings vir die huis. Veral kinderklere vir die ouderdomme een tot 15 jaar word benodig.
Die kinders se skoolklere is ook in die brand vernietig.
Skenkings kan na die familie geneem word of by die Turnberry Boutique Hotel op die dorp afgegee word.
• Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, word huise en buitegeboue soms met kragkabels verbind, maar is dit baie gevaarlik en bied dit nie ’n langtermyn-oplossing nie.
Kragkabels is nie bedoel om permanente krag tussen geboue te verskaf nie, en soms kan die lading baie hoog wees wat die kabels laat warm word.
Mangqwengqwe sê al is dit duur, is die veiligste manier om geboue met krag te verbind om ’n gekwalifiseerde elektriese kontrakteur te kry om jou daar-mee by te staan.