Een sterf en vyf ernstig beseer in ongeluk op Mosselbaaipad

Deur Ilze-Mari Gründling
DIE Oudtshoorn Polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag nadat ’n motor Sondagmiddag die Mosselbaai-pad net buite Oudtshoorn verlaat het. Een een van die passasiers, Jakobus Oosthuisen van Welgeluk, is oorlede.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het die bestuurder van die groen Volkswagen Jetta om 15:15 beheer oor die voertuig verloor.

Die ander insittendes, Daniel Lentry, Martin Booysen, Andé Smith, Gerswin Oosthuizen en Frans Roman, is ernstig beseer en per ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem.

Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement van Gesondheid in Eden, is Lentry, Smith, Booysen en Roman met veelvuldige beserings oorgeplaas na George Hospitaal.

Gerswin Oosthuizen is egter reeds dieselfde aand ontslaan.