Die naweek: Twee moorde, twee verdagtes reeds vas

Twee verdagtes is deur die polisie vasgetrek nadat twee mans onderskeidelik gisteraand en vroeg vanoggend in  Dysselsdorp en Bridgton aan steekwonde beswyk het.

Volgens sers Christopher Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het speurders ’n 27-jarige verdagte in hegtenis geneem nadat ‘n Oudtshoorniet (27) omstreeks 02:15 vanoggend (21 Maart) by sy huis in Lappertstraat gesterf het.

‘n Voorlopige ondersoek dui aan dat die slagoffer saam met ’n vriend in die straat was toe ‘n voertuig langs hulle stilgehou het. Twee insittendes van die voertuig, gewapen met skerp voorwerpe, het uitgeklim en hulle aangeval.

Die oorledene is verskeie kere gewond. Hy het na sy huis gevlug maar daar ineengestort. Hy is later op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Die motief vir die aanval is nie duidelik nie.

Die Dysselsdorp Polisie het op hul beurt ’n 24-jarige verdagte Saterdagaand (20 Maart) vir moord in hegtenis geneem na die dood van ‘n 30-jarige man in Dysselsweg, Dysselsdorp.

Spies sê die polisie het die slagoffer met ‘n steekwond in sy bors op ’n oop stuk veld gevind.

“Ondersoek het aan die lig gebring dat die slagoffer en verdagte in ‘n argument betrokke was en die verdagte van die toneel gevlug het nadat hy die slagoffer gesteek het.

Albei verdagtes is in aanhouding.