Damvlak styg ná nog reën

• Munisipale werker met R1 000 beboet na video van sy oortreding

Deur Liesel le Roux
REËNBUIE wat sedert Dinsdagmiddag in die Oudtshoorn-gebied uitgesak het asook sneeu wat vir die Swartberge voorspel is, behoort die vlak van die Raubenheimerdam, die dorp se drinkwaterdam, die week nog ’n verdere hupstoot te gee.

Die vlak van die Raubenheimerdam het gister op 39,49% gestaan nadat heelwat water die dam binnegeloop het met die afgelope twee weke se reën en sneeu. Voorts het 17 mm reën teen gistermiddag reeds by die dam geval.

Die sogenaamde Dag Zero vir Oudtshoorn het met die onlangse reën en sneeu, en die damvlak wat gestyg het, van Desember na einde Maart 2019 geskuif. Die voorwaarde is natuurlik dat inwoners moet voortgaan om water soos tans te spaar.

Volgens Ntobeko Mangqwengqwe, woord­voer­der van die Oudtshoorn Munisipaliteit, was die waterverbruik van inwoners verlede week 10 090 kl/dag (10,09 ML/dag). Dit is binne die grens van 11 ML/dag, die grens waarbinne verbruik gehou moet word.

Johan Uys, bestuurder grootmaatwater by die munisipaliteit, sê die feit dat inwoners tans onder 11 ML/dag bly, wys dat inwoners saamwerk en water spaarsamig gebruik. “Soos dit warmer word, sal hierdie verbruik egter styg,” het hy gewaarsku.

’n Dankdag vir reën word vir Woensdag in die Burgersentrum op Oudtshoorn gereël. ’n Advertensie in dié verband:

Munisipale werker kry kitsboete van R1 000
’n Munisipale werker is intussen met R1 000 beboet nadat ’n video aan die lig gekom het wat wys hoe hy ’n tuinslang by die Thusong Sentrum gebruik om plaveisel mee af te spuit.

Die Hoorn het dié video aan die munisipaliteit gestuur nadat dit deur ’n leser aan ons beskikbaar gestel is.

Die werker het blykbaar ook die tuin­slang gebruik om ’n munisipale voertuig te was.

Die Hoorn is in die besit van ’n afskrif van die boetekaartjie van R1 000.

Die munisipale bestuurder, Allen Paulse, sê die munisipale personeel is teleurgesteld dat een van hul kollegas water op so ’n onverantwoordelike wyse met ’n tuinslang gemors het.

“Dié optrede is nie net ’n verleentheid nie, maar ook nadelig vir ons waterbesparingsveldtog.”

Volgens Paulse is personeel weer ingelig oor die erns van die situasie en die verbod op die natlei van oop ruimtes en parke met drinkwater.

“Enigiemand wat die waterbeperkings oortree, sal ’n boete van R1 000 opgelê word, of dit nou ’n munisipale amptenaar of ’n lid van die publiek is.”

Paulse sê die direkteur gemeenskapsdienste, Thomas Matthee, het die verkeershoof onmiddellik nadat hy van die voorval bewus geraak het, opdrag gegee om die R1 000-boete uit te reik.”

“Ons is dankbaar teenoor die lid van die publiek wat dié ernstige oortreding raakgesien het. Aan die positiewe kant is dit ’n aanduiding dat inwoners besef ons ervaar ’n waterkrisis.”