NA die aankondiging deur pres Cyril Ramaphosa Maandagaand oor die inperking vanaf 27 Maart was Ladismith se strate Dinsdag verlate, drinkplekke was gesluit en inwoners tuis.
Dit is duidelik dat COVID-19 ernstig deur inwoners opgeneem word.
Volgens Graham O’Connor, uitvoerende hoof van Spar wat die grootste supermark op Ladismith bedryf, het die winkelgroep voorsorgmaatreëls getref om tydens die pandemie hul personeel, klante en verskaffers se veiligheid te verseker.
Die Ladismith Apteek het ook op sy Facebookblad inwoners gevra om die apteek vooruit te skakel vir chroniese en ander medisyne. Die medisyne sal dan gereed wees wanneer die klant opdaag en hulle sal sodoende vinniger kan terugkeer huis toe.
Ilona February, eienaar van die Parkside Gastehuis op Ladismith, sê die toerismebedryf in ’n plattelandse dorp soos Ladismith kry ook baie swaar as gevolg van die pandemie en dat almal deurloop omdat verblyf gekanselleer moes word.
Dit beteken ook dat tydelike werkers afgelê moes word. (Deur Deon Meyer)