Deur Garnett Wicomb
’N MAN van Calitzdorp wat vir die dertiende keer aan huisbraak met die opset om te steel en diefstal skuldig bevind is, is in die Oudtshoorn Streekhof tot gewoontemisdadiger verklaar.
Jeffrey Tiemie (35) van Royal Heights, Bergsig, se rekord lees volgens streeklanddros Daniel Boks “soos ’n boek” en is dit in gemeenskapsbelang dat hy vir ’n lang tyd uit die gemeenskap verwyder moet word.
Tiemie is al by twee vorige geleenthede gewaarsku dat hy tot gewoontemisdadiger verklaar kan word en onvermydelik die sogenaamde “bloubaadjie” sal kry.
Streeklanddros Daniel Boks het met die vonnisoplegging gesê vorige middelmatige vonnisse wat hom opgelê is, het duidelik nie die gewenste uitwerking of noemenswaardige afskrikwaarde gehad nie.
Tiemie is daaraan skuldig bevind dat hy op 9 Februarie vanjaar, kort nadat hy weer vrygelaat is, by die Calitzdorp Country House van Niel Rogers ingebreek en port ter waarde van sowat R850 gesteel het.
Sy weergawe dat die huis se deur op ’n skrefie oop was en hy dit net oopgestoot het, is deur die hof verwerp. Hy is op video vasgevang en die verdoemende getuienis het hom geen ander keuse gelaat as om skuldig te pleit nie, het die landdros gesê.
Volgens Tiemie se rekord het hy in 1991 vir die eerste keer met die gereg gebots. Hy is in 2005 en weer in 2011 gewaarsku dat hy tot gewoontemisdadiger verklaar kan word.
Hy het meer as een keer tevore, kort nadat hy uit die tronk gekom het, weer misdaad gepleeg en een keer ook terwyl hy op parool was.
Die hof het beslis dat dit in belang van die gemeenskap is dat Tiemie vir ’n lang tydperk uit die gemeenskap verwyder moet word.
Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het die hof vir minstens agt jaar gevangenisstraf gevra omdat Tiemie aan ’n ernstige misdryf skuldig bevind is.
Omdat hy tot gewoontemisdadiger verklaar is, sal hy tussen sewe en 15 jaar agter tralies bly.