Slim inwoners maak tuine mooi



Vetplante en vygies in die Oudtshoorn Aftreeoord se pragtige tuine.
Foto’s: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
DIE tuine in die Oudtshoorn Aftreeoord in Kerkstraat, is beslis iets om te beleef; selfs in die huidige droogte.
Nie net is die tuine kleurvol en netjies nie, maar vang ’n groot verskeidenheid vygies en vetplante dadelik die oog – ’n bewys dat ’n tuin met die regte plante en bestuur steeds mooi in ’n droogte kan wees.
Volgens Marianne van Greunen, oordbestuurder, is daar verskeie watertenks in die oord waarin reënwater opgevang word en waarmee tuine natgelei kan word. Dit is ’n uitkoms in ’n droogteramptyd soos nou, sê sy.
Daar is drie komposhope in die oord wat deur inwoners begin is en verwerk word. Ook die demensie-pasiënte sit hand by met die komposhoop deur koerante te skeur wat by die kompos gevoeg word.
Die kompos is gratis beskikbaar aan inwoners vir gebruik in hul tuine. Van Greunen sê waar inwoners nie self in hul tuine kan werk nie, help van die oord se tuinpersoneel hulle.
Om te verhoed dat water te vinnig verdamp, word houtskerwe aan inwoners beskikbaar gestel. Dit kan as ’n dekkingslaag in tuine gegooi word.
Omdat die Oudtshoorn Aftreeoord al 26 jaar oud is, is baie van die tuine goed gevestig en is die oord ook baie boomryk.