DIE saak teen ’n man van Oudtshoorn wat tereg staan op ’n klagte van moord en die hof versoek het vir twee assessore, is in die streekhof vir twee dae – 19 en 20 Augustus – se verhoor uitgestel nadat assessore uiteindelik bekom is.
Andrew Blaauw (27) word van moord op ’n tiener, Gerswin Olivier (17), aangekla.
Die voorval het op 6 November 2020 plaasgevind.
Die staat sowel as die verdediging het reeds aangedui dat hulle gereed is om met die verhoor te begin.
Streeklanddros Ntsoki Moni het aan Blaauw verduidelik dat assessore lede vanuit die gemeenskap is wat nie oor enige regskennis beskik nie en dit moontlik tot sy nadeel kan strek. Hy het egter volstaan by sy versoek.
Volgens die staatsaanklaer, Willem Vister, sal die staat minstens tien getuies roep.