Anonieme man dreig Polisie met vyf bomme

Sers Anrie Muller en Repsol, een van die springstof-honde wat tydens die ondersoek gebruik is. Foto: Angelique Erasmus

Deur Angelique Erasmus
TWEE winkels en drie regeringsinstansies op Oudtshoorn is gister­oggend tydelik gesluit nadat die Oudts­hoorn Polisie omstreeks 09:00 ’n oproep van ’n onbekende man ontvang het waarin hy beweer dat hy vyf bomme in dié plekke geplant het.

Die polisie het spoedig opgetree en die persele van die Departement Binnelandse Sake, die Thusong Sentrum, Checkers, Shoprite en die Suid-Kaap Kollege met twee springstofhonde deursoek. Die honde, ’n rotweiler genaamd Nero en ’n Duitse herdershond, Repsol, is deur onderskeideliki sers McDulling en sers Anrie Muller hanteer.

Daar is geen plofstoftoestelle op enige van die persele gevind nie.

Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is ’n verdagte nog nie ge-ïdentitiseer nie.

Daar kon ook nog nie vasgestel word waarvandaan die oproep gemaak is nie.

Sy sê die man het aan die polisie gesê dat hy ’n “Russiese burger” is, maar dat hy vermoedelik sy stem vermom het sodat hy na ’n buitelanse burger geklink het.

“Ons het dadelik nadat ons die oproep ontvang het, lede van die SAPS na al die ingange van die dorp gestuur om seker te maak dat dit nie slegs ’n taktiek was om die Polisie se aandag af te trek terwyl daar ander ongerymdhede in die dorp plaas­vind nie,” het Michaels gesê.

Die Polisie ondersoek ’n klag dat vals bomdreigement gemaak is.