Mac Solomons.
Deur Garnett Wicomb
EEN van Oudtshoorn se oud-onderwysers, wat na haar man se dood twee jaar gelede in Port Elizabeth na haar geboortedorp teruggekeer het, is na ’n kort siekbed oorlede en vanuit die Weyers Memorial United Congregational Kerk begrawe.
Johanna Solomons, alombekend as Juffrou Mac, is deur ’n kollegemaat van weleer, Ann Drake, beskryf as ’n groot boom van Libanon wat geval het en ’n ware omgeemens. Hulle het saam aan in 1949 aan die eertydse Dower Opleidingskollege in Uitenhage as onderwyseresse afstudeer.
Solomons was volgens Drake ’n uitblinker in wiskunde en ratse tennisspeler. Sy was ’n liefdevolle mens wat na haar uittrede uit die onderwys in 1996 gereeld bejaardes na hospitale en klinieke geneem en as lid van die Charity Smiling Group huisbesoeke “soos ’n predikant” gedoen.
Die skoolhoof van die Helenvale Primêre Skool in Port Elizabeth waar Solomons tot 1996 skoolgehou het, Patrick Palmer, het haar in sy huldeblyk geloof as ’n persoon wat die skool die gerespekteerde institusie gemaak het wat dit moet wees.
“Sy het altyd ander met respek behandel en is daarom self hoog gerespekteer.
“By haar was reg, reg en verkeerd verkeerd. Jy het nie met haar kanse gevat nie,” het Palmer gesê.
Solomons het haar laerskoolloopbaan aan die Newton Hall Skool in Noordeinde begin en daarna by die Queenstraat Skool.
Haar hoërskoolopleiding het sy aan die Hoërskool Môrester ontvang.
Sy het by die Anderson Skool in Jonesstraat begin skoolhou en daarna by die Bridgton Voorbereidende Skool.
Sy het op 20 Desember 1969 met Alex Solomons van Port Elizabeth getrou.
Solomons was op haar dag ’n kranige tennisspeler en het saam met haar dubbelsmaat, Midas Beauzec, baie wedstryde vir die destydse White Lillies Tennisklub gewen.