Afriforum vra deursigtigheid oor proses van aanstelling

Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, rdh Johan Allers. Foto verskaf

Die AfriForum-tak in Oudtshoorn het verlede week ʼn interne appèl teen die Oudtshoorn munisipaliteit ingedien nadat dié munisipaliteit versuim het om op ’n aansoek te reageer wat in April ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) ingedien is.

Afriforum het met hulle aanvanklike aansoek om inligting deursigtigheid geëis oor die proses wat gevolg is met die aanstalling van Mkhululi Yekani as munisipale bestuurder. Volgens Afriforum het die munisipaliteit nie binne 30 dae soos wat vereis word, die inligting beskikbaar gestel nie.

“Ondanks die munisipaliteit se voorneme om ’n deursigtige aanstellingsproses te volg, het AfriForum nog geen terugvoer op sy vrae oor Yekani se geskiktheid vir dié posisie ontvang nie,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap. Volgens hom het Afriforum hom tot die burgemeester gewend om inligting rakende die aanstellingsproses van Yekani en sy voldoening aan die wetlike vereistes van die pos, te versoek.

Volgens Erasmus het die burgemeester hulle na die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, verwys.

AfriForum het op 23 April die burgemeester se kantoor besoek en ’n PAIA-aansoek ingedien, asook kennisgewings per e-pos aan die burgemeester en die LUR se kantore gestuur. Aangesien die inligting volgens PAIA-regulasies nie binne 30 dae verskaf is nie, het AfriForum verlede week ʼn interne appèl ingedien om die munisipaliteit te dwing om op hierdie PAIA-versoek te reageer..

Dit blyk dat Afriforum nie die minister se goedkeuring van Yekani se kwalifikasies bevraagteken nie, maar dat hulle deursigtigheid vereis oor die proses wat gevolg is met sy aanstelling. “Inwoners het die reg om te weet watse amptenare hulle verteenwoordig, daarom is dit van uiterse belang dat die munisipaliteit deeglik met amptelike prosesse omgaan om orde te handhaaf,” sê Erasmus.

Indien daar nie op die appél gereageer word nie, gaan Afriforum hulle tot die inligtingsreguleerder wend wat wetgewing oor vrye toegang tot inligting reguleer.

In reaksie op ʼn navraag het die uitvoerende burgemeester, Johan Allers, gesê dit is nie waar dat die munisipaliteit geweier het om die inligting te verskaf nie.

“Ons het Afriforum na die minister verwys wat die aanstelling moes goedkeur, wat hy wel in April gedoen het nadat hy bevestig het dat die munisipale bestuurder oor die nodige kwalifikasies beskik.”

Allers het ook bevestig dat Afriforum se jongste skrywe aan die munisipaliteit se regsafde-ling gegee is vir reaksie. Die burgemeester het in sy reaksie die hoop uitgespreek dat Afriforum nie só op Oudtshoorn gefokus is dat hulle hulle rol as waghond by ander munisipaliteite nie nakom nie. (HANNES VISSER)