Uitspraak na skokmoord van 2016

Die seun se slagoffer, Jan Tiemie.
Foto verskaf
Deur Garnett Wicomb
’N 16-JARIGE skoolseun van Oudtshoorn is in die streekhof aan moord skuldig bevind.
Die seun het skuld ontken op die aanklag van moord op die 59-jarige Jan Tiemie, wat op Vrydagaand, 11 Maart 2016, in Rossouwstraat, Bridgton, met ’n mes in die bors ge-steek is.
Die seun was toe 14 jaar oud.
Hy het erken dat hy Tiemie gesteek het, maar skuld beken op ’n alternatiewe aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer omdat dit, volgens hom, nie hy was wat die noodlottige steekwond toegedien het nie.
Die seun is egter deur streeklanddros LA Wilkens skuldig bevind aan moord en vonnisoplegging is vir ’n korrektiewe en proefbeampteverslag uitgestel.
Hy is in die sorg van sy ma.
• Die Hoorn het in 2016 berig dat Tiemie die aand omstreeks 23:37 deur die kind met ’n mes gesteek is.
Volgens kapt Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, het vier jeugdiges na bewering die aand in die pad gesit en drink en Hookah-pyp (bekend as Hubbly Bubbly) rook toe Tiemie verbygestap het.
Een van hulle het Tiemie klaarblyklik sonder enige rede met ’n mes gesteek. Tiemie is op die hoek van Schilder- en Rosseaustraat met ’n steekwond in sy bors gevind.
Die seun is die Sondagmiddag daarna in hegtenis geneem
Abigail Oktober, ’n suster van Tiemie, het hom as ’n “rustige en liefdevolle man” bestempel. “Hy het pensioen gekry en het nie eens geld gehad nie. Ook nie ’n selfoon of duur skoene nie. Ek weet nie wat hulle by hom wou hê nie,” het sy gesê.
Tiemie het nie ’n vrou of kinders gehad nie.
• Visser het ná die moord op Tiemie gesê die aantal messe wat die Polisie by mense vind as hulle deur-gesoek word, is kommerwekkend.
• Lees ook ander berig wat ’n algemene praktisyn sê oor meswonde, die oorsaak van talle se dood in die Klein Karoo. Een van die opspraakwekkendste mesmoorde die laaste jare was die op Preston Titus op 1 Desember in sy huis in die weermagterrein op Oudtshoorn.
Hy is 27 keer met ’n mes gesteek.