Suid-Kaap Kinderkoor stig nuwe streekkore in Oudtshoorn en Ladismith

Die bekende en bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor.             Foto verskaf

Die bekende en bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor. Foto verskaf

DIE bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor wat onder die leiding staan van Jan-Erik Swart, pak volgende jaar ’n splinternuwe ont­wikkelingsprojek vir ta­lentvolle sangers tussen die ouderdomme van nege en 17 jaar aan met die stigting van twee Klein Karoo dorps- en streekskore. Dié twee kore sal onder die vaandel van die Suid-Kaap Kinderkoor-organisasie val.

Die nuwe streekskinderkore vorm deel van ’n oorhoofse ontwikkelingsprojek om koormusiek in die platteland van die Klein Karoo, Eden en die Tuinroete te hervestig. Weens groot afstande en stygende reiskoste ondervind talentvolle plattelandse sangers ’n gebrek aan hoëvlakse blootstelling, ontwikkeling en optreegeleenthede.

Oudisies sal vir kore in Ladismith en Oudts­hoorn as “takke” van die Suid-Kaap Kinderkoor in samewerking met plaaslike skole en musieksentrums gehou word.

Plaaslike kore sal in hul eie dorpe deur perso­neel van die Suid-Kaap Kinderkoor en Musiek­akademie besoek en ontwikkel word, met verskeie optreegeleenthede wat geskep sal word.

Presterende lede uit elke koor sal gekies word om die streek, die provinsie en Suid-Afrika op internasionale konserttoere en kompetisies te verteenwoordig, oefenkampe by te woon, en deel te vorm van ’n jaarlikse massakoor-uitvoering van alle takke van die koor.

Instrumentaliste word ook ingesluit.

Die konsert-en-toerkore van die Kinderkoor sal voortaan deur instrumentale ensembles begelei word, wat in ’n toekomstige junior streeksimfonieorkes ontwikkel sal word.

Gekose lede sal ook die geleentheid gebied word om volgende jaar aan die Wêreld- Olimpiese Koorspele, wat tydens die Julie-skolevakansie in Tshwane aangebied word, deel te neem.

Deelname aan dié kompetisie, wat meer as 700 topkore vanoor die hele wêreld trek, is gelykstaande aan Springbok-kleure.

Die Suid-Kaap Kinderkoor het verlede jaar ’n eerste plek (cum laude) teen 38 lande tydens die 64ste Europese Musiekfees vir jongmense in België ingepalm.

Tydens 2014 se Wêreldkoorspele in Riga, Letland, het die Kinderkoor ’n wêreld-eerste plek in die Musica Sacra ope afdeling asook drie goue medaljes gewen. In 2013 het die koor die gesogte Kannaprys vir die beste musiekproduksie by die KKNK saam met Chris Chameleon verower.

Belangstellende sangers en instrumentaliste tussen nege en 16 kan die volgende persone vir oudisies kontak: Sunette Naudé (Laerskool Wesbank, Oudtshoorn) by 071 492 3443; Retha van der Merwe (Die MusiekHuis, Ladismith) by 081 333 4548. Navrae kan ook aan die korebestuurder, Mimi Haasbroek by 082 585 0632 gerig word. Musici wat as plaaslike dirigente en begeleiers vir die kore wil optree, kan ook aansoek doen.