Deur Marlene Malan
DIE uitgebreide planne vir uraanontginning in die Karoo is vir alle praktiese doeleindes gekelder – en dit deur die maatskappy wat die hardste baklei het om dié projek hier te vestig.
Dr Stefan Cramer, ’n geohidroloog wat jare lank ’n verbete veldtog téén die mynbouplanne gelei het, het Dinsdag dié “goeie nuus” bekend gemaak in ’n brief aan belangstellendes en Karoo-inwoners wat ewe sterk gekant was teen die omskepping van die Karoo in ’n myngebied.
Volgens Cramer het die Australiese mynmaatskappy Peninsula Energy, “die dryfkrag agter die planne”, pas aangekondig dat hulle aan die projek onttrek. “Sonder Peninsula se tegniese kundigheid en die steun uit Rusland wat hulle kry, glo ons dat uraanontginning onmoontlik is in die Karoo.”
Cramer het gesê dis niks anders nie as ’n geval dat “Dawid Goliat oorwin het”. “Die nuus was netjies weggesteek in ’n formele mediaverklaring – dis dat Peninsula sy aandeel in die Karoo-uraanontginningsprojek wil verkoop. Dit beteken dat langer as tien jaar se pogings en miljoene dollar wat hulle hierop bestee het, vermors is. Die vraag is: Waarom? Nog in Junie vanjaar het Peninsula sy Karoo-maatskappyvennote as wêreldklas bestempel, ’n faktor wat die toekoms van die maatskappy sou verseker. Nou skielik sê hy dat hy liewer wil konsentreer op sy Noord-Amerikaanse uraanveld.”
Cramer waarsku egter dat die geveg nie heeltemal verby is nie. “Peninsula gáán probeer om sy aandeel aan ander beleggers te verkoop. En daar gáán mense wees wat geld hieruit sal probeer maak. Ek is egter oortuig daarvan dat, vir alle praktiese doeleindes, dit die einde van die planne vir uraanontginning in die Karoo is.”