Dalia Wilck (middel) en Lezelma Pretorius van die Oudtshoorn Rotariërs saam met Sulyma van der Merwe (links) en die kleingoed van die Pierewiet Speelgroep by Volmoed. Nadat die aanvanklike skoolgebou regs op die foto verlede jaar gebou en in gebruik geneem is, is die groot skeepsvraghouer links agter intussen geverf, vensters ingebou en word dit tans as klaskamer en kantoor ingerig. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
DAAR word steeds deur die Oudtshoorn Rotariërs gewerk om die Pierewiet Speelgroep in Volmoed te verbeter en uit te brei tot voordeel van die kinders en die gemeenskap van dié landelike gebied buite Oudtshoorn.
Tydens Fase 1 van dié projek is ’n nuwe skoolgebou verlede jaar opgerig. In Fase 2 word ’n skeepsvraghouer wat die Rotariërs aangekoop het, nou ingerig as nog ’n klaskamer asook ’n klein kantoortjie.
Volgens een van die Rotariërs betrokke by Pierewiet, Dalia Wilck, word die houer met die hulp van Oudtshoorn se tweelingstad in Nederland, Alphen aan den Rijn, opgegradeer. Dit word onder meer geïsoleer om beter bestand teen hitte en koue te wees, ’n plafon word ingesit en ’n afdak en stoepie word voor die houer gebou.
’n Groentetuin gaan ook in ’n stadium aangelê word. In die lig van die huidige droogte is dié planne egter voorlopig op die lange baan geskuif.
’n Groot boekskenking vir die kleuterskool is ook onlangs deur die Rotariërs bekom.
Wilck sê die Oudtshoorn Rotariërs beoog om in 2018 hul betrokkenheid by voorskoolse opvoeding uit te brei en ook ander kleuterskole te ondersteun waar hulp nodig is.
• Die speelgroep is 23 jaar gelede deur Pierewiet se skoolhoof, Elbé Slabbert, begin.
Die Oudtshoorn Rotariërs het in 2014 besluit om hul fokus te plaas op voorskoolse kinderontwikkeling. Ná ’n behoeftebepaling is besluit op die ontwikkeling van die Pierewiet Speelgroep.
’n Stuk grond is deur wyle Thys du Toit, ’n boer van Volmoed, bewilllig. Die grond is oorgedra op die naam van die Agri Volmoed (boerevereniging).
Verskeie mense het ’n groot rol gespeel in die totstandkoming van die skool. Onder hulle is Danie van der Berg, mede-eienaar van Volmoed Quarries wat baie werksgeleenthede in die omgewing skep. Hy het groot insette gelewer deur die skoolterrein gelyk te skraap en boumateriaal te skenk. Johan Smit van Johan Smit Argitekte het die planne vir die skool opgetrek en toesig gehou tydens die bouwerk.