Beleef die ware gees van Kersfees op Saterdag 5 Desember wanneer Klassieke Klein-Karoo Kersfees weer op die granaatplaas Celebratio aangebied word.
Die drie kunstenaars wat vanjaar die gehoor gaan bederf met klassieke- en Kerstreffers van regoor die wêreld, is die sopraan Lynelle Kenned en die tenore Jannie Moolman en Louis Loock.
Hulle word begelei deur ’n klassieke orkes onder leiding van Paul Loeb van Zuilenburg.
Louis Loock, wat vanjaar vir die eerste keer by Celebratio optree, is ’n veelsydige kunstenaar wat net so gemaklik is met liedjies van Elvis Presley as met opera-arias en gospelmusiek.
Hy het sy debuut in die a-capella groep Romanz gemaak en volg deesdae sy eie sololoopbaan. Hy is ’n klassiek-opgeleide tenoor wat gereeld in musiekblyspele, verskeidenheidskonserte asook sy eie produksies optree.
Jannie Moolman is ’n gewilde en veelsydige sanger-liedjieskrywer wat in sy loopbaan van meer as dertig jaar deel was van verskeie operas en ander verhoogproduksies.
Hy het in sy bekroonde loopbaan verskeie toekennings ontvang, waarvan die ATKV se lewenstoekenning vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek die mees onlangse een is.
Die roos tussen die dorings is die sprankelende Lynelle Kenned, wat as sopraan met ’n lang lys toekennings kan spog, insluitend die Fiësta-toekenning vir Beste Klassieke Uitvoering in 2023, ’n Naledi- en Fleur du Cap-toekenning asook Kunste Onbeperk se Jong Stem-toekenning in 2019.
Sy is ’n multidissiplinêre uitvoerende kunstenaar, TV-aanbieder en mediapersoonlikheid wat met haar engelstem gehore regoor die wêreld bekoor.
Die gehoor sal kan uitsien na pragtige Kers-liedere asook van die mooiste klassieke treffers. Daar sal ook geleentheid wees vir samesang.
Die konsert begin om 19:30, maar die kos- en wynstalletjies is reeds van 18:00 af oop. Kom gerus vroeër en kuier op die grasterras wat uitkyk oor die granaatboorde en die Gamkaberg.
Kaartjies kos R290 per persoon en is aanlyn beskikbaar op www.celebratio.co.za.
Vir meer inligting kontak Marita Meyer by 082 335 6059.
Klassieke Klein-Karoo Kersfees spog met top-name in die bedryf
Jannie Moolman. Foto verskaf.
Be the first to comment on "Klassieke Klein-Karoo Kersfees spog met top-name in die bedryf"