Dalene Steenkamp-Brits en Gerrit Jordaan.
Foto’s Verskaf

’N HEERLIKE program met duette vir orrel en klavier word Dinsdagaand (23 Julie) deur die Oudtshoorn Kunstevriende by die Klein Karoo Ostrich Emporium aangebied.
Die pianis en orrelis Dalene Steenkamp-Brits en die orrelis Gerrit Jordaan tree op met ’n program wat iets vir elke smaak beloof – van die Magaliesburgse Aandlied tot by werke van Gershwin.
Steenkamp-Brits is ’n voormalige lektor by die Operaskool van die Universiteit van Kaapstad en ook die stigter en afrigter van die George Mannekoor. Sy was voordat sy in 1981 met haar gesin na George verhuis het, onder meer die amptelike pianis vir die Kaaplandse Uitvoerende Kunste en het ook as pianis van die SAUK gereeld radio- en TV-opnames gemaak as solokunstenaar en begeleier.
Gerrit Jordaan het al wêreldwyd as solo-kunstenaar opgetree, onder meer in Duitsland, Nederland, Frankryk, Engeland, Kanada en Finland. In sy loopbaan was hy al konsert- en kerkorrelis, onderwyser, post-doktorale navorser by die Noordwes-Universiteit en deeltydse dosent in orrel, harmonie, kontrapunt en musiekgeskiedenis. Hy was verantwoordelik vir verskeie lied-verwerkings, komposisies en liedtekste vir kerkgebruik in Afrikaanse gemeentes en is sedert 2017 musiekdirekteur van George
Moedergemeente en ’n bestuurslid van die George Musiekvereniging.
Die vertoning begin om 19:00 en kaartjies kos R80 per persoon. Kaartjies is te koop by AnneLise (072 592 3928) en Antoinette (084 567 1030).
’n Kontantkroeg en pizzas te koop sal vanaf 18:00 beskikbaar wees.