Johan Liebenberg in aksie.
Op ’n warm somersaand in Augustus 1972 het Neil Diamond ’n epiese konsert in Los Angeles aangebied wat lewendig opgeneem en uitgereik is onder die titel Hot August Night. Vir sewe nagte ná mekaar het derduisende mense aan Diamond se lippe gehang terwyl hy treffer ná treffer gesing het, elkeen uit sy eie pen.
Aanhangers kan nou, 47 jaar later, dié konsert herleef wanneer Johan Liebenberg sy gewilde Neil Diamond-konsert Klein Karoo toe bring. Heel gepas vind die konsert op die granaatplaas Celebratio ook in Augustus plaas, net soos die kultus-konsert van 1972.
Die Hot August Night-album het aan Diamond ikoonstatus besorg – tot vandag toe beskou baie mense dié album as Diamond se heel beste werk. Diamond het in sy loopbaan meer as 100 miljoen albums verkoop, wat hom een van die topverko-pers van alle tye maak.
Liebenberg se Diamond-produksie word reeds die afgelope sewe jaar met groot sukses in Suid-Afrika en sy geboorteland Namibië aangebied. Hy’s eintlik ’n kitaarspeler van beroep, maar nadat hy een keer ’n Diamond-liedjie as deel van ’n Barnyard-medley gesing het, was die koeël deur die kerk.
“Die terugvoer was so goed dat die Barnyard-maatskappy my gevra het om ’n volledige produksie te doen van Neil Diamond en Celine Dion se musiek. Dit was daar waar alles vir my begin het,” vertel Liebenberg.
Hy’t die Barnyard-maatskappy vaarwel toegeroep en op sy eie gegaan – met groot sukses, veral met sy Diamond-produksie. “Ek is self nie famous nie, ek dink net mense hou van Diamond se musiek en ek is baie gelukkig dat hulle van my weergawe daarvan hou. Dit het maar ’n ruk gevat om ’n naam op te bou, maar ek sit baie in om justice te doen aan Diamond se liedjies. Ek probeer ook om altyd met ’n orkes op te tree want dit help baie met die energie van die vertoning,” vertel Liebenberg.
Vir die optrede op Celebratio sal ’n vierstuks-orkes die verhoog met Liebenberg deel. “Die lede speel gereeld saam met Boulevard Blues (’n Kaapse Blues-groep). Die een speel baskitaar, die ander een sleutelbord. Dan is daar ook ’n kitaarspeler en ’n ou op dromme.”
Die idee is om die klank so na as moontlik aan ’n oorspronklike Diamond-vertoning te kry – duidelik kry Liebenberg dit reg, want wanneer hy in Gauteng optree, is dit meestal voor ’n volgepakte venue.
Hy verander soms die inhoud van die program (Diamond het immers 38 toptien-liedjies in sy loopbaan gehad), maar volgens Liebenberg is daar ’n paar treffers van Diamond wat áltyd deel sal bly van sy produksie. Hier verwys hy na liedjies soos “Forever in Blue Jeans”, “Sweet Caroline”, “I am, I said” en
“Beautiful Noise”, wat ook op die lys is vir die Celebratio-vertoning. Liebenberg se persoonlike gunsteling Diamond-liedjie is “Play me”.
Liebenberg beoog om meeste van Diamond se treffers by die konsert te sing, “veral die Hot August Nights-liedjies”. “Ek het ’n groot passie vir sy musiek, veral die dieper liedjies soos ‘Cante Libre’ en ‘Morning Side’. Ek sing dit met baie passie omdat ek dit binne my voel. Hopelik kan ek dit oordra en die gehoor terugneem na goeie tye met sy musiek.”
Dit beloof om ’n aand van “beautiful noises” te wees en konsertgangers word genooi om van 18:00 af saam met vriende en familie op die terras te kuier. Daar sal kos- en wynstalletjies beskikbaar wees. Daar is ook beperkte akkommodasie beskikbaar op die plaas. Spring dus gou en bespreek jou plek.
Vir meer inligting oor die konsert of om jou kaartjies te bespreek, besoek www.celebratio. co.za. Kaartjies is ook beskikbaar by PostNet op Oudtshoorn. Telefoniese navrae kan gerig word aan Gerhard Meyer by 0828027138.