By ’n informele viering van die 10de Klein Karoo Klassique Saterdagaand by Casa del Sole in Oudtshoorn, was van links Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, Pieter Fourie, oud-KKNK-hoofbestuurder, Ferda en Nic Barrow, Danie Bester en Crispin Sonn, direksievoorsitter van Kunste Onbeperk. Foto: Schalk le Roux
Deur Liesel le Roux
DIT is belangrik vir Oudtshoorn om ’n fees soos die Klein Karoo Klassique te hê, het die voorsitter van die direksie van Kunste Onbeperk, Crispin Sonn, Saterdagaand gesê by ’n informele viering van die 10de jaar wat dié klassieke musiekfees aangebied word.
Hy het verwys na die manier waarop so ’n fees ook jong inwoners van die streek kan inspireer en uiteindelik ’n verhoog bied vir hul talent – soos in die geval van die pianis Sulayman Human wat op Dysselsdorp grootgeword het en vanjaar in verskeie produksies tydens die fees opgetree het.
Nic Barrow, inisieerder van die fees, het vertel die gedagte vir so ’n fees het ontstaan nadat hy en sy vrou, Ferda, die Salzburg Festspiele, ’n jaarlikse fees van klassieke musiek en drama in Mozart se geboortedorp, bygewoon het.
“Dit was nie vir my moeilik om te dink dat so ’n soort fees in Oudtshoorn aangebied kan word nie.”
Hy het vertel dat hy sy idee met Danie Bester, musiekkenner en sakeman van Oudtshoorn, bespreek het, en Bester hom dadelik gesteun en bygestaan het om die fees van die grond af te kry.
“Die ontvangs was fenomenaal en die eerste fees ’n groot sukses. Die eerste Klassique was waarskynlik ook die eerste verhoog buite die Kaap waar die nou wêreldbekende Pretty Yende opgetree het.”
• Hugo Theart, waarnemende uitvoerende hoof van Kunste Onbeperk, aanbieder van Klein Karoo Klassique en die KKNK, sê die fees was ’n groot sukses en terugvoer is baie positief.