DYSSELSDORP, De Rust en Blomnek het weer water wat veilig is om te drink.
In De Rust en Dysselsdorp is die water uit die krane veilig vir menslike gebruik, maar in Blomnek moet dit eers twee tot drie minute lank gekook word voordat dit veilig is om te drink.
Luidens ‘n verklaring van die Oudtshoorn Munisipaliteit toon watermonsters wat Donderdag getrek is, dat die water in die De Rust Reservoir veilig is. Die water in die Blomnek Reservoir moet egter gekook word omdat chlorinering daar langer neem as gevolg van die grootte van dié reservoir.
Intussen sal die munisipaliteit steeds watertrokke na Blomnek te stuur om inwoners by te staan.
Watertrokke sal nie meer na De Rust toe ry nie.
Die munisipaliteit waarsku in hul verklaring dat die situasie weer kan verander as dit sou reën en onsuiwerhede weer in die water beland, Inwoners word ook gevra om water spaarsaam te gebruik.
Goeie nuus is dat Dysseldorpers sedert Donderdagmiddag weer skoon water het nadat ’m waterpomp gebars en die pompstasie oorstroom is. Water word na die hoë reservoir gepomp wat Dysselsdorp se waternetwerk voed.