
Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n voormalige assistent-superintendent van die Oudtshoorn Munisipaliteit wat van bedrog en korrupsie aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere verhoor uitgestel.
Frikkie van Staden (51) wat verantwoordelik was vir onder andere die instandhouding van paaie, is in Februarie deur die Valke in hegtenis geneem. Hy het na bewering tussen Maart 2011 en Julie 2014 die Oudtshoorn Munisipaliteit onregmatig beïnvloed om werk aan ’n beslote korporasie, Kamvelihe General Trading wat aan sy skoonsuster, Francis Booysen, behoort het, te verskaf.
Die munisipaliteit het na bewering verliese van byna R2 miljoen gely.
Van Staden pleit onskuldig op al die aanklagte en ontken dat hy enige geld van Kamveli of Booysen ontvang het.
Die saak is na die getuienis van die ondersoekbeampte deur streeklanddros Neels Nortje tot 23 Oktober uitgestel.