Italiaanse klipbreker vir paaie

Die revolusionêre nuwe klipbreker, ’n eerste in Suid-Afrika, lyk maar klein agter die trekker wat dit trek. Die klipbreker is ook op die inlasfoto. Foto’s verskaf

Deur Angelique Erasmus
DIE Tuinroete Distriksmunisipalieit spog met ’n revolusionêre nuwe lineêre klipbreker wat vanuit Italië ingevoer is. Dié klipbreker, die eerste van sy soort in die Wes-Kaap en die land, word tans in die Oudtshoorn-omgewing getoets.

Die klipbreker wat deur ’n groot trekker gesleep word, breek growwe en klipperige materiaal af tot ’n fyner en meer geskikte materiaal wat vir padbou gebruik kan word.

“Die streek se gruispadnetwerke gaan vinnig agteruit, en ’n gebrek aan goedgekeurde gruisgroewe dra by tot die vertraging van die herstel van paaie. Dit verhoog ook die koste van die herstel daarvan,” sê Marlene Nqumse, woordvoerder vir die Tuinroete Distriksmunisipaliteit.

Volgens Nqumse is die besluit om die klipbreker te koop om die redes gedoen. Dit verwerk klip op die korrekte manier en vorm dan ’n geskikte gruislaag wat makliker onderhoubaar is.

Sy sê die klipbreker is een van ’n groep werktuie wat gebruik word om ’n volhoubare eindresultaat te verseker. Dit sluit ’n stootskraper, padskraper, trekker met ’n klipbreker, watertrokke en rollers vir kompaktering in.

Die totale waarde van die groep werktuie beloop sowat R25 miljoen.

Die uitvoerende bestuurder van die distriksmunisipaliteit se paaiedepartement, John Daniels, het by ’n demonstrasiesessie vir raadslede en amptenare van die distriksmunisipaliteit gesê die klipbreker sal op die langtermyn ’n groot verskil aan die paaie in die distrik sal maak.

Gert Verwey, projekbestuurder tydens die twee maandelange toetsfase, sê hy en sy span is optimisties oor die impak wat die masjien op die paaieskedule sal hê.

Toetse sal oor die volgende maande in samewerking met verskeie konstruksie- en materiaalkenners gedoen word om gepaste werksmetodes te ontwikkel aangesien die nuwe masjien nuwe metodes en tegnologie benodig. Deurlopende toetse sal ook van kardinale belang wees.