GRATIS gryswater sal binnekort weer by die Oudtshoorn Rioolplaas langs die Rooiheuwelpad beskikbaar wees – waarskynlik teen die einde van volgende week.
Die munisipaliteit is tans besig met herstelwerk aan die gryswater-toevoerstelsel by die rioolplaas nadat dit onklaar geraak het.
Die gratis gryswater wat die munisipaliteit aan inwoners beskikbaar stel, is egter steeds by die St Saviourstraat-pomp te kry.
Inwoners was die laaste tyd na wat verneem word baie ontevrede omdat dié gratis diens aan hulle op die oomblik nie meer by die rioolplaas beskikbaar is nie nadat die watertoevoerpyp daar gebreek het nie.
Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, het ’n versoek aan die publiek gerig om nie die terrein van die rioolplaas te probeer betree nie aangesien toegang beperk is tot slegs personeel.
Hy sê die munisipaliteit is nie bewus van bewerings dat werkers onder die invloed van drank onlangs ’n pyp daar probeer herstel het nie, maar het gevra dat enigiemand wat van wangedrag bewus is, dit aan ’n senior munisipale amptenaar moet rapporteer.