DIT het nog steeds die afgelope week op Oudtshoorn gegons oor die troebelheid van die dorp se drinkwater en vrae of daar ’n verband is tussen die water en maagprobleme by inwoners sedert Februarie vanjaar.
Die Hoorn het die plaaslike hospitale genader en – soos tydens ons gesprek met algemene praktisyns in Februarie – wil dit steeds voorkom of die oorsaak van maagprobleme op die dorp eerder aan ’n virusinfeksie toegeskryf word en nie aan E.coli nie.
Slegs een geval van E.coli gevind in hospitale
Daar was slegs een laboratorium-bevestigde geval van E. coli in Februarie vanjaar by die Oudtshoorn Hospitaal, sê Nadia Ferreira, woordvoerder van die Departement Gesondheid Eden Distrik.
Volgens David Fourie, woordvoerder van die Mediclinic Klein Karoo, was daar wel in Februarie ’n toename in pasiënte met maagprobleme, maar kon die oorsaak van die maagprobleme nie teruggespeur word na ’n E-coli-besmetting nie.
Stoelgangmonsters van pasiënte met maagprobleme is geneem om die oorsaak te identifiseer vir korrekte behandeling.
Fourie sê daar is tans ’n afname in toelatings met maagprobleme.
’n Dokter by ’n laboratorium op George het ook in Februarie aan Die Hoorn gesê hulle kon by dié spesifieke laboratorium geen bakteriële groei vind in stoelgange van siek pasiënte wat hulle getoets het nie.
Virus en parasiet maak waarskynlik siek
Algemene praktisyns op Oudtshoorn waarmee Die Hoorn gepraat het, sê ’n maagvirus was vermoedelik eerder vir die maagprobleme verantwoordelik.
Die Hoorn het ook verneem dat die crypto-parasiet vir die ongesteldheid van ten minste een Oudtshoorniet verantwoordelik was.
Ilze Kritzinger van Oudtshoorn het op die Facebookblad Oudtshoorniete staan saam aangedui dat haar dogter in die hospitaal beland het as gevolg van ’n crypto-parasiet wat sy dalk deur besmette water kon ingekry het.
Kritzinger skryf egter dat hulle gebottelde water by die huis drink.