Dit is die planne met nuwe watermeters

Deur Liesel le Roux
DIE Groter Oudtshoorn Munisipa­liteit het by ’n raadvergadering op 31 Januarie eenparig goedkeuring verleen dat watermeters in Oudtshoorn vervang moet word.

’n Openbare inligtingsveldtog sal van stapel gestuur word om die inwoners hieroor in te lig.

Daar word beoog om huidige watermeters tussen 2018 en 2020 te vervang met waterbestuursmeters, slim­- meters (smart meters) of voorafbetaalde meters. Dit sal akkurater le­sings verseker wat aan wetgewing vol­doen en ook geskatte lesings of lesings wat deurgebel word, vervang.

Volgens die agenda van die vergadering is 3 380 watermeters ontoeganklik as gevolg van gevaarlike honde, hekke wat gesluit is of rommel en ander voorwerpe wat bo-op meters geplaas word, of word die meters se lesings deurgebel. Dit maak meer as 19% van alle waterlesings uit. Die meeste watermeters is ook ouer as 30 jaar wat die akkuraatheid daarvan mag beïnvloed. Deernishuis­houdings gebruik voorts tans gemiddeld 32,76 kiloliter water per maand wat die gratis watertoekenning van 6 kiloliter ver oor­skry.

Provinsiale tesourie het R1 miljoen beskikbaar ge­stel vir ’n metervervangingsprogram vir 2017/2018 na­dat die munisipaliteit ’n besigheids­- plan ingedien het. ’n Versoek is reeds gerig vir verdere befondsing van R2,5 miljoen vir 2018/ 2019 en R3,5 miljoen vir 2019/2020. Eie fondse van R830 000 sal ook gebruik word.

Die program vanjaar sal afskop met die identifisering van die grootste deernis-watergebruikers en die installering van meters daar wat oor­matige verbruik sal beperk, maar ook sal toelaat dat water vooraf gekoop kan word – soos tans met krag gedoen kan word. Verbruikers van ontoeganklike watermeters sal ook geïdentifiseer word en ’n water­bestuursmeter/slimmeter/voorafbetaalde meter daar geïnstalleer word.

Hulp vir Bitou
Die raad het voorts by die vergadering goedkeuring verleen dat die munisipale bestuurder, Allen Paulse, en die finansiële hoof, Felix Lotter, die Bitou Munisipaliteit vir vyf dae kan bystaan met die opstel van ’n finansiële herstelprogram.
Hulle sal vir dié tydperk spesiale verlof neem en alle koste hiervan sal deur die Bitou Munisipaliteit gedra word.
Paulse en Lotter sal deel wees van ’n span bestaande uit beamptes van ook die provinsiale regering en die Knysna Munisipaliteit.

Paulse het by die vergadering gesê dat hoewel die provinsiale regering wou hê dat hulle meer tyd daar moet spandeer, hy aan minister Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaas­like regering, gesê het dat dit nie vir hulle moontlik sal wees om langer as vyf dae uit Oudtshoorn te wees om daar deur te bring nie.

Bitou het terwyl Oudtshoorn onder administrasie was, Paulse en Lotter ’n jaar lank vir drie dae per week beskikbaar gestel om die Oudtshoorn Munisipaliteit by te staan.

Werkswinkel oor Blossoms
Die raad het besluit om ’n werks­winkel te hou oor die Blossoms-diepwaterprojek sodat ’n ingeligte besluit oor die toekoms en voortgang daarvan geneem kan word.

Nuwe lewe vir verkeer
Die raad het ook by die vergadering kennis geneem van ’n verslag oor ’n omkeerstrategie met talle beheermaatreëls wat verlede jaar by die verkeersdepartement in werking gestel is met die doelwit om alle vorme van wanadministrasie, bewerings van bedrog en korrupsie wat sedert 2012 aan die orde van die dag was, hok te slaan.